Seun en medebeskuldigdes later in hooggeregshof verhoor
Die drie beskuldigdes wat van die ontvoering en moord op die 67-jarige Charlotte Christine Fenn (67) van Vereeniging aangekla word sal later in die hooggeregshof verhoor word, maar die datum vir die verhoor moet nog vasgestel word.
VEREENIGING. – Grant du Toit (46), die seun van die oorledene wat saam met haar op ‘n kleinhoewe by Houtkop-Landbouhoewes buite ons buurdorp Vereeniging gebly het, sowel as Quinton Edgar (52) en Lindsay Kirton (31), wat albei op Fenn se kleinhoewe geloseer het, staan tereg op Fenn se moord.
Fenn was ‘n bekende inwoner van die Vaaldriehoek en het saam met haar werkers tuindienste in die omgewing gelewer.
Luidens die klagstaat sou Du Toit, Edgar en Kirton op Donderdag 2 Februarie 2023 vir Fenn ontvoer het, haar Kia bakkie gesteel het en haar vermoor het.
Fenn se uitgebrande bakkie is glo op ‘n plaas naby Sasolburg gevind.
Haar lyk is op Maandag 6 Februarie in die bosse langs ‘n spoorlyn by Redan gevind.
Sy het skietwonde aan haar kop gehad.

Du Toit is in Maart vanjaar op borgtog van R2 000 vrygelaat.
Dit volg nadat die staat toegegee het die enigste bewyse wat daar in hierdie stadium teen Du Toit is, is bloed is wat op sy hemp en skoene gevind is.
Die kledingstukke is blykbaar in ‘n wasgoedmandjie in Du Toit se kamer gevind en volgens ‘n verklaring van die ondersoekbeampte was die klere vol gras, modder en bloed.
Daar was ook krapmerke aan Du Toit se arms.
Die kledingstukke is vir forensiese en DNS-toetse gestuur maar in hierdie stadium is daar nie afdoende bewyse dat dit wel Fenn se bloed is nie.

Edgar en Kirton het intussen albei hul borgaansoeke laat vaar en is steeds in aanhouding.
Al drie van hulle het op Vrydag 21 Julie weer vlugtig in die Vereeniging-landdroshof verskyn, maar die saak is tot Woensdag 16 Augustus 2023 uitgestel om ’n verhoordatum in die hooggeregshof te reël.
Dit het vroeër, tydens Du Toit se borgaansoek in Maart, aan die lig gekom dat die staat oor beeldmateriaal beskik wat was hoe die oorledene en Kirton op die dag van haar verdwyning langs mekaar in ‘n winkel staan, saam die winkel verlaat en dan saam in haar bakkie klim en wegry.
Beeldmateriaal wat op dieselfde dag geneem is wys hoe Fenn se Kia-bakkie en ‘n Opel Kadett wat aan Edgar behoort, omstreeks 16:14 weer by die winkelsentrum se parkeerterrein opdaag.
Edgar klim dan uit die oorledene se Kia, stap die winkelsentrum binne en kom later terug met ‘n sak en ‘n houer.
Hy giet dan die inhoud van die houer uit. Later kan mens sien hoe die Opel Kadett na die nabygeleë vulstasie ry waar die beskuldigde die petroljoggie vra om die leë houer vol petrol te maak.
Altesaam R110 se petrol is ingegooi.
Die Opel Kadett ry dan weer terug na waar die Kia geparkeer is.
Dan sien mens hoe Edgar die parkeeterrein in die oorledene se bakkie verlaat, met Kirton wat hom dan in die Opel Kadett agtervolg.

https://vaalweekblad.com/168005/seun-en-medebeskuldigdes-later-in-hooggeregshof-verhoor/?fbclid=IwAR11yvp6m07TPtEUe7SCCquiQRg9QvcitoFk32AlJMjyakC3YYghqUPbZt0



