Groot skrik toe weerlig ‘n gesin se kar tot stilstand blits
Hulle het skielik 'n verblindende blougeel flits gesien en die slag gehoor...
‘n Kuiertjie in die Vrystaat het verlede naweek op ‘n skokkende noot vir ‘n Vanderbijlparkse gesin geëindig toe hul voertuig deur weerlig getref is. Hul Mahindra Xylo se elektriese stelsel het skynbaar onherstelbare skade opgedoen.
Mev. Caroline Lessingh sê dit het die Sondagmiddag baie gereën en die weer was swaar toe sy, haar man Marius en dogter Carlie die terugtog vanaf Welkom na Vanderbijlpark aangepak het. Hul reis was heel voorspoedig totdat hulle so 30 km voor Kroonstad skielik ‘n verblindende blougeel flits gesien en die slag gehoor het. Hulle het dadelik besef hul voertuig is deur weerlig getref. Drie brandkolle, waarvan die grootste omtrent so groot soos ‘n R5-muntstuk is, kon op die voorruit gesien word waar die weerligstraal die voertuig getref het.
“Die drie van ons was gelukkig ongedeerd maar ons kar het dadelik krag verloor en mens kon net alarms hoor skree,” sê Caroline. “Marius het kopgehou en dadelik van die pad af getrek. Die kar was morsdood en wou nie weer vat nie. Net die alarms het aanhou skree en Marius moes dit ontkoppel. Ons het ons versekeraar gebel, wat ‘n platvlaktrokkie gestuur het om ons te kom haal en saam met die voertuig terug te neem na Welkom.
“My broer het van Vanderbijlpark af gery om ons te kom haal en ons voertuig is die Maandag deur ons versekeraar na ‘n paneelklopper in die Vaaldriehoek vervoer. ‘n Voorlopige ondersoek dui daarop dat ons motor se kragboks en die hele elektroniese stelsel deur die weerlig vernietig is,” sê Caroline.
Enjoy unmatched discounts on intel gaming PC
Buy nowCatch the offer now! Buy MSI PRO B660M gaming PC and pay only R16,599 instead of R17,429
Assessors is nog besig om ‘n beraming van die skade te maak, maar die gesin sal tot Januarie moet wag om te hoor of hul voertuig herstelbaar is of afgeskryf gaan word.
Naskrif: ’n voertuig met ‘n soliede dak en waarvan die vensters toe is, dien as ‘n ‘Faraday’-hok gedurende ‘n elektriese storm. ‘n Weerligstraal se elektriese stroom beweeg dus rondom die buitekant van ’n geleidende voorwerp (die voertuig se bakwerk) en beskerm sodoende die insittendes.
Daar is egter gereeld berigte dat weerlig skade aan voertuie se elektroniese stelsels aangerig het of die lugsakke laat ontplooi het. Kenners kan gerus in die kommentaar-afdeling hul mening of ‘n verduideliking oor dié fenomeen gee.





