Hekel hou haar besig
Gehekelde klere is deesdae só in die mode oorsee dat 'n inwoner van Senatus in Carletonville baadjies vir mode-bewuste Engelse moet brei.

Volgens mev. Sophia Oosthuizen (82) hou hekel haar reeds vir jare besig. Oosthuizen het haarself in die 1960’s leer hekel om haar besig te hou terwyl sy bykans daagliks per trein van Bellville na die ou Conradie Hospitaal in die Kaap gery het waar sy as arbeidsterapeut gewerk het. Hoewel sy en haar man, Fanie, deur die jare op verskeie plekke, waaronder die Boland, Windhoek, Pretoria en Roodepoort gewoon het, het die hekelwerk die hele tyd saam getrek. Hulle woon nou al die afgelope vyf jaar in Carletonville ná sy deur ‘n vriendin in die omgewing, Drienie Minnie, van die oulike woonstelle by Senatus bewus geword het. Oosthuizen sê hulle is glad nie spyt dat hulle Carletonville toe getrek het nie.
“Ons het al op baie plekke gewoon, maar ons het nog nie sulke vriendelike mense ontmoet nie. Hulle is baie toeganklik en aanvaar mens maklik,” sê sy. Behalwe dat sy by Senatus se Vlytige Vingers-winkel en die brei-groep sowel as aksies by die NG Kerk Oberholzer-gemeente betrokke is, het Oosthuizen gou vir haar ‘n naam begin maak as iemand wat ‘n bobaas met ‘n hekelpen is.
Só het haar ou vriendin, Minnie, onlangs op haar knoppie gedruk toe sy hoor dat familielede van Engeland op soek is na gehekelde baadjies omdat dít blykbaar nou hoogmode in Brittanje is. Oosthuizen het vinnig ‘n patroon geïmproviseer en het dit reeds in twee kleure, wat beide mooi by ‘n denim sal lyk, gehekel. Haar gehekelde dekens is ook só mooi dat sy reeds ook met een vir ‘n ander kennis se familielid in Australië besig is. Maar hoekom bly sy só besig met die handwerk as sy net sowel lekker kos rus?
“Ek moet my kop besig hou. As jy skeppend is, gee dit jou vervulling. Dit is sielkundig baie goed vir jou,” sê sy.




