Local newsNews

Boer gee sy laaste asem om mense en diere te help

“Hy het altyd alles voluit gedoen. Hy het gegaan met dit wat hy geniet het om te doen en dit was om mense en diere te help.”

“Hy was altyd bereid om ander mense te help. Hy sou homself in gevaar stel om ander mense en diere te help.”

So sê Betsie Willemse, oorlede Hennie Willemse (59) se vrou.

“Dit was ook wat hy besig was om te doen toe hy…” sê Betsie hartseer.

Hennie is tydens Saterdag, 29 Julie, se verwoestende brande by Rooipoortjie naby Potchefstroom aan ‘n hartaanval oorlede.

Hy het sy beeste van kant gemaak wat in die brand seer gekry het en het toe inmekaargesak. Hy het ook as voorman op Jaco Pieters se plaas
gewerk.

Hennie se beeste het tydens die Rooipoortjie-brande seer gekry en Jaco en sy gesin het kom hand bysit.

“Jaco se beeste was fine, maar boere help mos mekaar, so Jaco,
sy vrou, en hul dogters het saam Hennie gegaan om te help met die
brand. Hulle wou nie die beeste uitsit nie, maar hulle het besef die beeste ly baie erg. Hennie het Jaco se pistool gaan haal om die beeste uit te sit.

Hennie Willemse is Saterdag, 29 Julie tydens die Rooipoortjie brande aan
‘n hartaanval oorlede. Foto: Verskaf.

Hy moes deur ‘n draad klim om die laaste bees uit te sit. Hy het die pistool neergesit en voor die draad inmekaar gesak,” sê Betsie stil.

“Jaco sê dit was vir hom die vreemdste ding. Hennie het eers die wapen veilig gemaak en neergesit voor hy deur die draad sou klim. Dis die tipe mens wat Hennie was.”

Hennie het ‘n vol lewe geleef met alles wat hy aangepak het, maar sy hart het altyd na die plaas gehunker.

“Hennie wou eintlik altyd boer,” sê Betsie. “Ja,” vertel sy dogter, Ronel, verder, “Hy het in Durban al diere-kursusse bygewoon.”

Hennie het begin deur melkbeeste aan te koop, en later het hy as voorman vir Jaco Pieters begin werk.

“Dit was Hennie se lewe om op ‘n plaas te wees en diere te versorg en mense te help,” sê Betsie nadenked.

“Hennie kon enigiets doen. Hy kon teel, hy kon bou, hy kon boer, hy kon elektriese werk doen,” vertel Betsie.

“A man that can do all,” onthou Ronel met ‘n hartseer glimlag. “Hulle (Hennie en Jaco) was besig om by Jaco ‘n KI (kunsmatige insuminasie) kamertjie te bou om dit vir die koeie en almal
gemakliker te maak,” vertel Betsie.

Hennie het in Springs groot geword, en was in Laerskool CR Swart.
Hy was in die Hugenote Seunsskool tot Gr. 11, waarna hy skool verlaat het om sy ouers finansieel te ondersteun.

Hy het diensplig gaan doen by die weerwag, waarna hy ‘n honde-hanteerder by die Lugmag geword
het. Hennie en Betsie is in Augustus 1983 getroud.

“Ons sou die maand 40 jaar lank getroud wees. Voor dit was ons ses jaar saam, en ons het mekaar nog voor dit ook geken,” sê Betsie.

“Dis ‘n leeftyd.”

Nadat Hennie sy diensplig voltooi het, het hy en Betsie by ‘n konstruksie-maatskappy in Springs begin werk. ‘n Paar jaar later is die Willemse af Harrismith toe om saam Hennie se suster en swaer by ‘n verkoelingsmaatskappy te werk. Hennie en Betsie se seun, Marius Willemse, is in Harrismith gebore.

Hennie het ander werk gesoek, en het ‘n pos by Avbob aanvaar, waarna Betsie ook vir Avbob begin werk het. Die Willemse-gesin is af na ‘n Sasolburgse tak toe, en daarna ‘n Durban-tak. Hulle het vir ongeveer 22 jaar in Durban gebly. “Die dinamika in Avbob het verander, en Hennie het besluit om nie meer daar te werk nie,” sê Betsie.

“Eintlik het hy besluit dis tyd vir julle om af te tree,” sê Ronel.

“Toe dink ons dis nie so moeilik om wasgoed te was nie, kom ons koop ‘n wassery,” “En dit was nader aan ons in Pretoria,” vertel Betsie en Ronel om die beurt.

Ronel en haar broer Marius, sy vrou, en hul dogtertjie bly almal in Pretoria

Hennie het ‘n Jack Russel genaamd Bubbles gehad wat hom oral gevolg het.

“As daar ‘n bakkie by die erf inry gaan kyk Bubbles of dit dalk
Hennie is. Die honde dink heelwaarskynlik hy is nog op die plaas, die dat hy een week hier was en een week op die plaas,” sê Betsie met trane in haar oë.

“Ek dink dit gaan nog tyd vat voor hul besef hy kom nie terug nie.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button