CrimeLocal newsMunicipalNews

Hospitaal in spervuur ná Oosthuizen se dood

“Julle laat ons in die steek wanneer ons julle die nodigste het!”

Hierdie is die aanklag van verskeie inwoners teen die F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle. ’n Groot deel van die munisipaliteit se meer as 100 000 inwoners maak staat op dié hospitaal, met talle wat nie finansieel ander mediese sorg kan bekostig nie.

Die Pos het verlede week berig oor die 37-jarige Louis Oosthuizen wat tuis dood is nadat die hospitaal na bewering vier keer in een week geweier het om hom op te neem. Sy dood het die speekwoordelike kan wurms oopgekrap.

Die Pos het die hospitaal sowel as die provinsiale departement van gesondheid genader om kommentaar. Neil Shikwambana, die provinsiale woordvoerder, het soos volg geantwoord:

“Die hospitaal het nie geweier om die pasiënt op te neem nie. Hy is ondersoek en behandel en is onmiddellik ontslaan omdat sy toestand nie aan die kriteria vir opname voldoen het nie. Sy toestand was bevredigend. Hy kon op sy eie asemhaal en het geen tekens van swakheid getoon nie. Die dokters het geen rede gevind om hom op te neem nie. Dit is nie ongewoon dat pasiënte behandel en onmiddellik ontslaan word as hulle ons fasiliteite besoek nie.”

Hy het nie uitgebrei wat die kriteria vir opname is nie.

Verskeie inwoners het Die Pos daarna gekontak om hul verhale te deel:

Sanmarie Hearn vertel emosioneel dat haar aangenome seun Quinton van Niewenhuizen (37) op Donderdag 7 Maart oorlede is.

“Ek het Quinton op Donderdag 15 Februarie F.H. Odendaal-hospitaal toe geneem nadat hy deurmekaar was en sleg gevoel het. Hulle wou nie dat ek met my voertuig inry nie, hoewel hy nie self kon loop nie. Daar was ook nie ’n rolstoel beskikbaar nie.”

Sy kon uiteindelik deurry en het hom met groot gesukkel tot by ongevalle gekry.

“Ons het gesit en wag en niemand het hulle aan ons gesteur nie. Ek het naderhand iemand gaan roep om na hom te kyk, maar moes hoor dat Quinton nie rêrig siek lyk nie en dat daar nie ’n dokter beskikbaar is nie.”

In daardie stadium het haar seun glo nie meer gereageer as sy met hom praat nie. Hulle het ’n afspraak by ’n privaat dokter gekry. Daar moes hulle hoor dat Van Niewenhuizen se toestand baie sleg is. Sy bloeddruk was glo 200/220 en daar was geen nierfunksie nie. Hy is Saterdag, 17 Februarie in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria opgeneem, waar hy op Donderdag, 7 Maart oorlede is.

“Dit was ’n baie ontstellende ervaring. Ook in die Steve Biko-hospitaal het die personeel nie na hom omgesien nie. Sy neus het in ’n stadium erg gebloei en toe sy niggie hom drie dae later besoek, was sy gesig en klere steeds vol bloed. Ek het haar gevra om hom weer te besoek nadat ek hom vir drie dae lank nie op sy selfoon in die hande kon kry nie. Sy het hom dood in sy hospitaalbed aangetref.”

Debbie Kok vertel dat sy haar seun se meisie (wat anoniem wil bly) in Februarie ongevalle toe geneem het nadat sy gehuil het oor erge pyn in haar knieë.

“Hulle wou haar nie opneem nie en het gesê sy was nie in ’n motorongeluk nie en sy bloei nie. Hulle het gesê as ons betaal kan hulle vir ons ’n lêer oopmaak, andersins kan ons die volgende dag in die ry kom sit.”

Kok vertel dat die 22-jarige meisie heeldag in die ry gesit het, net om te hoor sy moet die volgende dag terugkom. Sy het nog ’n dag lank in die tou gesit sodat bloed getrek kon word. Nadat daar aanvanklik gesê is dat die x-straalmasjien buite werking is, is daar wel x-strale geneem.

“Die dokter het vir haar gesê sy weet nie hoe om die x-strale te lees nie. Sy kan hierdie week Mokopane toe gaan in ’n bussie sodat die dokters kan kyk,” het Kok gesê. “Sy is nog baie jonk en moet elke dag werk toe stap. Haar knieë maak ’n vreemde geluid as sy dit buig en ons is bekommerd.”

Ná twee maande het sy nog geen medikasie ontvang nie. Kok het geen reaksie ontvang op ’n e-pos met haar klagtes wat sy aan die hospitaal gestuur het nie.

Christene Selzer vertel van haar nagmerrie ondervinding ná ’n miskraam in Junie verlede jaar.

“Ek was vyftien weke swanger en het erg begin bloei. Ek was twee weke vantevore by die hospitaal en hulle het vir my antibiotika gegee nadat ek ligte bloeding gehad het. Tydens my tweede besoek was dit so erg dat ek ’n handdoek tussen my bene moes indruk om die bloed te keer. Hulle het daarop aangedring dat ek ten spyte hiervan moet rondloop. Ek het daarna ’n mediese prosedure gekry, sonder dat hulle vir my enige verdowing of pynmedikasie gegee het.

“Ek weet nie hoe iemand kan verwag dat ’n mens so iets moet deurgaan sonder om te huil of skree nie. Dit was ongelooflik seer. Ek moet teruggaan dokter toe, maar is te bang dat ek weer deur soveel pyn moet gaan. Ek wens ons staatshospitale wil ons beter behandel. ’n Mens voel asof jy die personeel verontrief as jy met ’n mediese noodgeval daar opdaag.”

Die Pos het na die klagtes van inwoners weer gaan aanklop by Neil Shikwambana, die provinsiale woordvoerder van die departement gesondheid en hy antwoord:

“As a department, we are committed not only to provide the highest quality of care but also a conducive environment where patients and their next of kin can communicate openly with the healthcare workers in the facilities. If these standards are not met at a bare minimum, we encourage community members to lay their complaints in writing so that corrective measures can be taken and, in the process, help us improve on the standard of service that we offer to the public. Complaints can be laid at the Quality Assurance Offices. The offices are available in our hospital. Alternatively, people who are aggrieved with our services can ask to speak to the CEO or Head of Institution for their grievances to be heard and resolved.”

Related Articles

 
Back to top button