Local newsMunicipalNews

DA pak burgemeester oor rioolprobleme

Dit is ’n absolute skande. Met dié woorde het Desiree van der Walt, DA-kiesafdelingshoof van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, kriminele klagtes teen die burgemeester en die munisipale bestuurder gelê oor die riool wat maande lank reeds in die Klein Nylrivier invloei.

Haar volgende stappe, sê sy, is om ook klagtes te lê by die menseregtekommissie (MRK), die Groen Skerpioene en die Blou Skerpioene.

Volgens Van der Walt het sy tydens ’n onlangse oorsigbesoek verskeie mangate in wyk 11 gesien wat konstant oorloop met rioolvuil wat in die rivier beland. Die strate waar die gate geleë is, is Van Riebeeck-, Stasie-, Joe Slovo en Limpopostrate.

Desiree van der Walt, DA-kiesafdelingshoof vir die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, by die Modimolle-polisiestasie.

Die Klein Nyl, wat afvloei tot by die UNESCO-bewaringsgebied Nylsvlei, kronkel langs hierdie strate verby.

“Inwoners het my vertel dat hierdie probleem reeds baie jare bestaan. Een van die groot probleme is dat ’n buurman ’n riool afvoerpyp onwettig herlei het en riool deur die Jasnia-woonstelle se erf, reguit in die rivier in vloei. Die bure het ’n stryd met riool wat lank reeds in hul erwe opdam en erge stank veroorsaak,” het sy gesê.

Van der Walt meen die munisipale bestuurder, Ben Thobela, en die burgemeester, Sechele Sebolai, is die verantwoordelike beamptes en moet die probleem aanspreek.”

Foto’s bo en onder: Desiree van der Walt en raadslid Hercules Louw by riool wat in die straat in Modimolle afvloei. Foto’s: Verskaf.

Van der Walt sê dat inwoners haar vertel het dat hulle in 2021 die lyk van ’n baba uit die drein uitgehaal het. Sy kon geen verdere inligting daaroor opspoor nie en wil weet of die saak behoorlik deur die polisie gehanteer is. Inwoners het ook gekla dat ’n onderneming wat klip en bousand verkoop op die oewer van die rivier geleë is probleme met die riooldreinering veroorsaak.

Van der Walt het onderneem om ondersoek in te stel of die nodige omgewingsimpakstudies gedoen is en regte prosesse gevolg is.

“Die swak toestand van die riool hou gesondheidsrisiko’s in vir die inwoners en hulle moet met die stank van die rou riool in hul erwe saamleef. Dit is onaanvaarbaar.”

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button