NewsSchools

Klein Treetjies staan steeds hul skoene vol

Dit is mos iets om te vier! Klein Treetjies-kleuterskool in Modimolle, word in Junie vanjaar 58 jaar oud en beplan om ’n week lank fees te vier met verskeie aktiwiteite vir oud en jonk.

Gerugte dat hierdie kleuterskool van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) sy deure gaan sluit is onwaar, het Fransie Buttcher, die waarnemende skoolhoof, gesê.

Sy verhuis wel om nader aan haar verloofde te wees, maar die onderhoude vir ’n nuwe skoolhoof begin eersdaags.

“Die skool het so ’n ryke geskiedenis. Ons het weer deur die ou joernale geblaai van toe die skool se deure oopgemaak is. Hier is al ’n paar generasies Nylstromers deur hierdie hekke,” vertel sy.

Die skool was aanvanklik bekend as Die Wieg en het net na babas omgesien. Dit was in Tamsenstraat geleë. Die aanvraag na ’n skool vir kleuters het gegroei en Klein Treetjies het sy deure in 1966 geopen met 30 kleuters. Een van die joernaal se eerste inskrywings lui:

“Ons het 25 motorkarretjies, kastrolle en ’n elektriese ketel geskenk gekry. Die buitebandswaaie is uiteindelik opgesit tot die kinders se groot vreugde. Ons het vrugte vir die kinders by ’n samaritaan gekry en die stukkende glybaan is reggemaak. Ons het ook ’n geskenk van poppe ontvang.”

Die inskrywing is deur die eerste skoolhoof ,’n mev. Alberts gemaak.

Een van die eerste inskrywings in die skool se joernaal in 1966 is van kleuters wat opgewonde was oor fietse wat hulle ontvang het.

Elmarie van Wyk het verlede jaar afgetree nadat sy vir 32 jaar lank aan die stuur van die skool was.

Die skool het oor die jare uitgebrei om aan die groeiende vraag te voldoen. In 2007 is ’n groot vertrek aangebou wat as eet- en slaapsaal diens doen.

In 2012 het die skool ’n nuwe kombuis aangebou.

“Die skool se terrein is ontwikkel met kleutertjies in gedagte en ons het heerlike ruim klaskamers,” het Buttcher gesê.

Daar is ook verlede jaar in September kringtelevisiekameras geïnstalleer en in Mei vanjaar kry die skool ’n moderne nuwe baadjie wanneer dit oorgeverf word in kleure volgens die SAVF se riglyne.

Die skool sien om na babas vanaf vier maande tot kleuters van vier jaar oud. Daar is ook graad RR en graad R-klasse asook ’n nasorgsentrum. Die skool is oop gedurende skoolvakansies.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button