Crime

Rower gevonnis ná plaasaanval

’n Man wat aangekeer is ná ’n plaasaanval in Sussenvale buite Modimolle, is tot twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis op huisroof-klagtes.

Clemence Chineka is op Vrydag 12 April in die Modimolle-streekhof gevonnis. Evias Muroyi, wat saam met hom aangekla is, is onskuldig bevind. Die twee was in aanhouding sedert hulle in 2021 in hegtenis geneem is.

Die mans is aangekeer nadat ’n 19-jarige man, wat plaasvoorman op die plaas was, op Saterdag 18 September 2021 om 22:43 deur vier gewapende mans in die huis aangeval is. Hy was alleen tuis.

Die Pos het destyds berig dat die man, wat anoniem wou bly weens veiligheidsredes, oorrompel is nadat die rowers by die skuifdeur in die woonkamer ingekom het. Die rowers het hom aangerand en die huis geplunder. Tydens die voorval is ’n pistool teen die slagoffer se kop gedruk en hy is ook deur ’n venster gestamp wat snye op sy arms veroorsaak het wat erg gebloei het.

Die rowers het volgens die polisie in die man se VW Polo gevlug nadat hulle sy Apple iPhone, beursie, ’n oond, ’n kragopwekker en ’n .22-geweer gebuit het. Die motor is die volgende dag naby Hammanskraal teruggevind. Die rowers het gevlug.

Ná die aanval het die man na die bure toe geloop om hulp te ontbied.

Die Modimolle-polisie se speurders en misdaad-intelligensie-eenheid het leidrade ontvang dat een van die verdagtes tien dae later op 28 September in die hof sou verskyn, nadat hy aangekeer is op klagtes van koperdiefstal. Die verdagte het volgens die polisie in dieselfde voertuig, ’n Toyota Fortuner, by die hof opgedaag as wat in die plaasaanval in Modimolle gebruik is. Die man, ’n 39-jarige Zimbabwiër, is weer by die hof in hegtenis geneem.

Die polisie het hom na een van sy adresse in Hammanskraal geneem, waar hulle van die items wat tydens die plaasaanval gesteel is, teruggevind het.

Related Articles

 
Back to top button