Schools

Kleuters grootoog met besoek van brandweer

Is dit nie elke klein seuntjie se droom om ’n brandweerman te wees en met die groot rooi brandweerwa mense te gaan help nie?

Die Klein Pikkewyn-kleuterskool is op Vrydag, 19 April aangenaam verras deur die onverwagse besoek van die Bela-Bela brandweer. Dit het baie van die kleuters se drome vlerke gegee en hul opgewondenheid was tasbaar.

Die kleuters is opgewonde oor die brandweer se besoek. Voor: Hailey Groothof. Middel: Luan Barnard, Zeané Nagel en Ewald Pieterse Agter: Mpho Qezensele en Betty Ramushu (brandweerbeamptes) saam met Estelle Paul (skoolhoof).

Dit was ’n besorgde oupa, Piet Erwee, wat die besoek gereël het. Hy meen dat kleuters reeds vroeg geleer moet word van veiligheidsmaatreëls en moet weet wat van hul verwag word in ’n tyd van nood.

Die brandweeramptenare wat die kleuters touwys gemaak het is Betty Ramushu en Mpho Qezensele van die Bela-Bela-munisipaliteit. Hulle het saam met Erwee ’n paar demonstrasies gelewer, wat die kleuters insig gegee het hoe om op ’n veilige en effektiewe wyse te reageer in die geval van ’n noodsituasie soos ’n brand.

Die leerders luister aandagtig na Piet Erwee wat hulle meer van brandveiligheid vertel.

Die Klein Pikkewyn-kleuters het die besoek terdeë geniet en was opgewonde om meer te leer oor brandveiligheid en die rol wat die brandweer in hul gemeenskap speel. Hierdie ervaring het ’n waardevolle geleentheid vir die kleuters gebied om prakties kennis op te doen wanneer hul in ’n situasie is waar daar ’n brandgevaar is.

Related Articles

 
Back to top button