Blogs

Hoofartikel: Op ‘DIE POS’ met als wat gebeur in jóú dorp

Ná al die jare in die koerantbedryf is die opgewondenheid steeds daar as ek elke Donderdagoggend soos ’n nuuskierige agie deur die vars vonds in my hande blaai.

Ek sê altyd vir my kinders die dag as ek nie meer uitsien en tevrede kan glimlag waar ek staan met ’n koerant pas vanaf die drukpers, is my tyd in die media verstreke.

Min mense weet hoeveel harde werk agter die skerms ingesit word om die koerant elke week gereed te kry vir die drukkers. Soos by ander nasionale en gemeenskapskoerante is dit ook by Die Pos ’n spanpoging en as een van die speke in die wiel vas hak, kan dit ’n konsternasie afgee en die week se beplanning erg beduiwel.

Dit vat soms bloedsweet voor jy uiteindelik die finale produk straat toe kan stuur, maar as die koerantbedryf eers onder jou vel ingekruip het, doen jy jou werk met ’n lied in die hart en raak bewoë as jy hoor van koerante wat hul deure moes sluit.

Ongeag die moeilike tye van ’n verswakte ekonomie en allerlei uitdagings wat ons net soos ander sakeondernemings in ons lesergebied moet trotseer, is die koerant ná 41 jaar elke week steeds getrou daar om ons lesers in te lig, te vermaak en op te voed.

Die Pos is deel van die geskiedenis van die Waterberg en vir ’n klein fooitjie van net R8 bly jy ingelig oor wat in jou gemeenskap gebeur. ’n Gedeelte van dié geld gaan ook elke week na Die Pos Kinderfonds wat armoede onder kinders in ons lesersgebied aanspreek.

Die Pos-familie is trots om met sy vier bekwame personeellede wat elk al vir meer as 26 jaar by die koerant werk, te kan spog:

Willie Nel is aan die stuur van die uitlegkantoor en sy werk is van hoogstaande gehalte en getuig van sy passie en toewyding. Willie spog met talle toekennings en is einde verlede jaar aangewys as Caxton se uitlegkunstenaar van die jaar.

Deon van Eck is Woensdagoggende Willie se regterhand wat help om die skoleblaaie gereed te kry vir die drukkers. Deon wie se hande vir niks verkeerd staan, is ook ons rekenaar tegnikus. Hy help ook die verspreidingspan met die pak van invoegsels en doen getrou diens by ons ontvangstoonbank.

Maria Oberholzer is nog ’n staatmaker wat deesdae deel van ons bemarkingspan is en haar harde werk en toewyding in die kantoor en gemeenskap is aansteeklik.

Maria Makwela is getrou op haar pos by die ontvangstoonbank waar sy ook administratiewe werk doen. Sy hanteer ook die regs- en kleiner advertensies. Haar man, Jim, is die afgelope sewe jaar Die Pos se drywer en hoof van verspreiding.

Die Pos sê dankie vir sulke lojale werknemers wat saam met die ander personeel gerat is om te sorg dat die koerant behoue bly in die gemeenskap. Hulle is dit almal eens die koerant is soos klitsgras wat aan jou vasklou. Om deel te kan wees van Die Pos-familie is ’n besondere eer.

Paasnaweek is op ons stoep en Die Pos sê dankie vir al ons adverteerders wat help dat ons weekliks deel van talle huishoudings kan bly. Geniet die ruskans wat die Pase bring en mag ons nie vergeet waaroor dit werklik gaan nie. Indien jy op die pad is, wees veilig en gehoorsaam die spoed- en padreëls.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button