Local sport

Is jou kinders waterveilig?

"Kinders moet nie alleen in of naby water gelaat word nie, selfs nie vir ’n kort tydjie nie."

Water is altyd ’n bron van vreugde en verfrissing, maar vir persone wat nie kan swem nie kan dit ’n lewensgevaarlike risiko inhou. Die veiligheidsaspekte met kinders in water moet ’n prioriteit vir ouers wees.

Die Pos het met Nicoline van Zyl, eienaar van Natspat-swemskool, gesels oor hoe ouers kan verseker dat hul kinders veilig is in swembaddens, damme, riviere en die see.

Die mees kritiese element van waterveiligheid vir kinders is dat daar voortdurende toesig moet wees. Kinders moet nie alleen in of naby water gelaat word nie, selfs nie vir ’n kort tydjie nie. Ongeag van die waterbron – moet ouers aktief toesien dat kinders altyd in ’n veilige omgewing is.

“Al dink jy dat jou kind kan swem, is dit steeds belangrik om daar te wees wanneer jou kind naby water is.” sê Nicoline.

Swemonderrig is ‘n uitstekende manier om kinders vaardighede aan te leer wat hulle kan beskerm.

“Om te swem is ’n lewensvaardigheid wat ingeoefen moet word, by ’n swemskool en ook by die huis,” het sy gesê.

Begin met basiese waterveiligheidsklasse en vorder dan na meer gevorderde swemonderrig. Hierdie vaardighede help nie net om ’n kind se selfvertroue in die water te bou nie, maar kan ook ’n lewe red.

As jy ’n swembad in jou tuin het, is dit uiters belangrik om die korrekte veiligheidsmaatreëls te tref. Installeer ’n hek wat toegerus is met ’n slot wat nie deur kinders oopgemaak kan word nie.

Indien die swembadarea nie omhein is nie, is ’n veiligheidsnet wat oor die swembad gespan word, van kardinale belang. Toegang tot die swembadarea moet beperk wees en slegs onder toesig van ’n volwassene. Hierdie stappe help om ongelukke te voorkom.

Nicoline sê dat al dink jy dat jou kind ’n bobaas swemmer is, moet ons altyd onthou dat ’n kind ’n kind bly en dat hulle hulself in gevaar kan stel naby water. Daarom is dit belangrik dat die nodige voorsorgmaatreëls getref is.

Dit sluit ook veiligheidstoerusting in. Nicoline benadruk dat kinders die nodige toerusting moet dra.

“Moenie daarop fokus om jou kind so gou as moontlik sonder die veiligheid-hulpmiddels te laat swem nie. Dit laat jou kind veilig voel en gee hulle selfvertroue in die swembad.”

Haar raad is om altyd ’n water “noodle” byderhand te hou, veral as die kind moeg raak in die swembad.

Dit is ook belangrik om kinders te leer om potensiële gevare in die water te herken en hoe om in noodsituasies te reageer. Leer hulle om te dink aan self-redding-strategieë, soos om na die kant van ’n swembad te swem. “Leer jou kind om nie net in te spring om ’n maatjie te red nie, maar om eerder ’n water “noodle” of reddingsboei te gebruik en nog beter om ’n verantwoordelike persoon te roep. Leer kinders om noodsituasies te herken en om kalm te bly.

Sy het ook gewaarsku dat kinders nie in water moet gaan waar jy nie die bodem kan sien (soos riviere en plaasdamme) as die volwassenes nie self eers die terrein verken het nie.
Die Natspat-swemskool bied vir kleuters tot volwassenes swemklasse aan.

Kontak vir Nicoline by tel. 081 443 8967.

Related Articles

 
Back to top button