Rolbalklub kroon sy ligakampioen
Die span van Oppi Kole Slaghuis is vanjaar dieWarmbad-rolbalklub se sakeliga-kampioen.

Die rolbalklub het hul finaal in die sakeliga op Dinsdag, 30 April met groot pret afgehandel.
Die sakeliga wat uit 28-spanne bestaan het, is sakelui van die dorp wat op vriendskaplike basis mekaar die stryd op die rolbalbaan aangesê het.

Nie net het die span van Oppi Kole Slaghuis met die louere weggestap nie, maar Hannes Fourie van dié span is ook aangewys as die speler van die jaar. Die ander lede van die gedugte Oppi Kole-span is Tian Fourie, Veronica Fourie en Fanus Fourie.
Fanus Fourie het aan Die Pos gesê dat hul vasberade was om onder die topsewe spanne te eindig. Hulle het verlede jaar negende geeïndig. Hulle eerste plek het hom heeltemal verbaas en die span van Oppi Kole het hulself onmiddelik ingeskryf vir die Big Challenge Winter Liga wat op 21 Mei afskop.


Die Ebola-span het die toekenning gekry vir die beste spangees. Hulle is Nico Venter, Danie Clifford, Gary Glenn en Danie Clifford (snr).
Die Melktert Kommissie-span wat bestaan uit Koba Booysen, Michelle Nel, Lee-Ann Smith en Natasha Steenkamp, het die gesogte Houtlepel-toekenning ontvang. Die toekenning gaan aan die span wat waarskynlik die meeste “blapse” gemaak het in die toernooi, maar ook die meeste pret gehad het.
Op Donderdag, 16 Mei neem die topsewe sakeliga-spanne van Warmbad-rolbalklub teen hul ewe knieë van Modimolle deel. Hulle is Oppi Kole, Auto Air, Toyota Legends, Grease Monkeys, Strikers, André Kock en Seun en Huizemark.