Local newsNews

Soladariteit Helpende Hand beoog om armoede te bekamp

Soladariteit Helpende Hand stig projekte om gemeenskappe te help teen armoede.

“Solidariteit Helpende Hand wil die Germiston-gemeenskap bemagtig deur fondse in die gemeenskap terug te ploeg, om kinders, bejaardes en gesinne te beskerm teen armoede,” sê Adele Kruger, Helpende Hand streekorganiseerder in Gauteng-Suid.

Helpende Hand het ’n missie om armoede te verlig en te verbreek en ook te voorkom.

“In ’n tyd waar die ekonomiese middelklas toenemend onder druk verkeer, kan niemand waarborg dat hulle nooit in armoede sal verval nie,” sê sy.

“Daarom raak dit al hoe belangriker om gesinne te help om uit die armoede-siklus te breek en vir ons kinders ’n beter toekoms te verseker.”

Helpende Hand het verskeie nasionale projekte wat daarop gefokus is om armoede op grondvlak aan te spreek.

“Ons bied vir die Germiston-gemeenskap ’n platform van waar hulle ’n daadwerklike verskil kan maak en ingrypend in hul eie gemeenskap kan belê.

“Helpende Hand stel fondse beskikbaar vanaf sy hoofkantoor aan elk van sy meer as 125 takke, om sodoende moeisame en tydrowende fondsinsamelingsaksies te vermy,” verduidelik Kruger.

Volgens die Helpende Hand takbefondsingsplan, sal alle Helpende Hand takke R12 000 vanaf die hoofkantoor ontvang vir die eerste 15 ondersteuners wat gewerf word.

Indien die plaaslike-tak 45 lede kan werf, sal hierdie tak R42 000 ontvang.

Hierdie geld word net so aangewend om projekte in die gemeenskap aan te pak om armoede hok te slaan.

“Helpende Hand se nasionale projekte is só gestruktureer dat R200 000 in ’n gemeenskap belê word indien die plaaslike tak aan al die nasionale projekte deelneem.

“Hierdie projekte sluit in om voeding aan behoeftige skole te verskaf, opleiding aan ouers te gee, skooltassies propvol skryfbehoeftes aan behoeftige Graad Eens uit te deel, plaaslike bejaardes te ondersteun en beurse vir tersiêre opleiding beskikbaar te stel, om net ’n paar te noem,” sê Kruger.

Tans het Germiston Helpende Hand drie sub-takke, in Elsburg, Lambton en Germiston-Suid.

Hulle wil graag nog sub-takke stig, in areas soos Primrose, Elspark, Leondale, Bedford Gardens en Dinwiddie.

Enige persoon wat graag by die stigting van ’n Helpende Hand Germiston sub-tak betrokke wil raak, kan bestaande tak voorsitters Schantel Koekemoer by 060 966 8215, Natasha Viljoen by 073 047 6218, of Germiston streekorganiseerder Heidi Searle by 076 271 3590 skakel.

 

Other articles you may be interested in:

Helpende Hand reik uit na nuwe graad een leerders

100 vrywilligers, 1 000 tassies en 2 000 teddiebere

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Germiston City News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button