
Lede van AfriForum Nigel het op 26 Mei besoek by Laerskool Tini Vorster afgelê, waar toetse na die suiwerheid van die skool se drinkwater uitgevoer is.
Volgens die organisasie sterf meer as 500 000 mense jaarliks weens onbehandelde of onsuiwer drinkwater. Die toetse, wat ondermeer ‘n Nitraatinhoud-toets insluit, is deur Neels Toerien uitgevoer nadat hy en Bennie Burger leerders oor die gevare van onbehandelde water toegespreek het.
Lede van AfriForum het oor die afgelope maande watertoetse by die Walter Bickley Rioolaanleg buite Vorsterskroon, die kanaal wat deur die dorp vloei, asook dié van Blesbokspruit uitgevoer en volgens Bennie Burger vertoon die uitslae verbasend goed. “Die uitslae het geen ernstige gevalle van waterbesmetting aangedui nie, wat daarop neerkom dat dit veilig is vir gebruik op landerye en vir vee,” het hy inwoners verseker.
Neels Toerien, lid van AfriForum Nigel, het tydens ‘n besoek aan Laerskool Tini Vorster toetse na die suiwerheid van die skool se drinkwater uitgevoer.
Volgens die toetsuitslag is die nitraatinhoud van die skool se drinkwater normaal en leerders is aangemoedig om hul dors na hartelus te les.




