Gesin van Alrapark dakloos gelaat na rukwind
NIGEL - 'n Gesin van Alrapark is haweloos gelaat nadat 'n sterk rukwind hul huis in Ribbonlaan se dak afgeruk het.

Die voorval het omstreeks 20:00 gisteraand (26 Februarie) plaasgevind.
Volgens die huiseienaar se dogter was haar ma, Emily Beyers (81) en drie kinders alleen in die huis toe die wind skielik die dak afruk. Dele van die dak is soos papier opgefrommel, terwyl ander groter dele etlike honderd meters deur die lug geslinger is en in ‘n straat sowat 600m daarvandaan beland het. Wat vir die inwoners van Alrapark vreemd is, is dat die dak van die Beyers-gesin voor die huis van ‘n ander Beyers-familie in Apple Crescent beland het. Geen ander huis in Alrapark deur die rukwind beskadig is nie.
“Die weer het opgesteek en dit het hard gereën, maar die volgende oomblik was daar ‘n vreeslike geraas. Die wind het van alle kante af gewaai en die dak soos ‘n stuk papier opgeskep,” het Me Beyers op die toneel gesê.
Niemand het in die voorval seergekry nie, maar Me Beyers en die kinders is erg getraumatiseer en is na familie elders geneem om van die skok te herstel.
Nigel Nooddienste het die toneel bygewoon om bystand te verleen en lede van die gemeenskap het vinnig nadergestaan om bystand aan die Beyers-gesin te verleen.









