CrimeLocal newsNews

SAPD misdaadverslag 11-15 April

NIGEL - Nigel SAPD ondersoek ‘n saak van huisbraak en diefstal nadat diewe op 13 April by ‘n huis in Eeufeeslaan ingebreek het.

Volgens polisiewoordvoerder A/O Madeleine von Wielligh het die skelms kort voor 10:00 by die huis ingebreek terwyl die eienaar elders in die huis besig was. Skootrekenaars, gereedskap, ‘n kamera, rekenaar hardeskyf  en geld is tydens die inbraak buitgemaak. Die waarde van die gesteelde items beloop ongeveer R40 000.

Nóg ‘n saak van huisbraak en diefstal word ondersoek nadat skelms dieselfde dag om ongeveer 13:25 by ‘n huis in Olienhoffstraat, Visagiepark ingebreek het. Volgens A/O Von Wielligh is die sekuriteitsdeur oopgebreek nadat die eienaar die huis verlaat het. Skootrekenaars, speletjiekonsole (playstation) en ander items ter waarde van ongeveer R45 000 is gesteel. Geen verdagtes is in verband met die sake aangekeer nie.

‘n Saak van gewapende huisroof word ook ondersoek na ‘n voorval wat omstreeks 20:15 op 13 April by ‘n kleinhoewe op Hallgate plaasgevind het. Die eienaar se vrou was besig om haar baba te bad toe sy die mans in die huis opmerk. Met hul vuurwapens op haar gerig, het die mans haar beveel om op die vloer te lê terwyl hulle die huis deursoek het. ‘n Selfoon en juwele is buitgemaak en die saak word ondersoek.

A/O Von Wielligh het die publiek ook gemaan om meer ag te slaan op privaat oproepe. Sy

sê Nigel Speurtak ondervind probleme wanneer klaers in sake telefonies gekontak word, aangesien oproepe wat vanaf die speurtak se kantore gemaak word as privaat oproepe wys (“private/unknown caller”). Ondersoekbeamptes het gevind dat klaers privaat oproepe ignoreer en dit nie antwoord nie. Die speurtak doen  gevolglik ‘n beroep op klaers wat sake geopen het om nie ‘n privaat oproep te ignoreer nie. “Dit is belangrik vir ‘n klaer om die oproep te neem, aangesien daar soms nog inligting uitstaande is of vordering van die saak bespreek moet word,” het sy verduidelik.

KAARTOMRUILING BY OTMs

Die polisie maan inwoners weer om uiters oplettend te wees wanneer hulle enige OTM in die dorp besoek. Dit volg na nóg ‘n insident waartydens ‘n middeljarige vrou by die ABSA OTM by Angelo Mall op ‘n slinkse wyse van haar bankkaart beroof is. Kort daarna is ‘n groot bedrag uit haar rekening onttrek.

* Moet nooit enige hulp van mense vra wanneer jy ‘n OTM gebruik nie – besoek eerder jou die naaste tak van jou bank vir hulp en ander aanwysings;

* Beskerm ten alle tye jou persoonlike pinnommer en moet dit nooit aan ‘n ander persoon gee nie;

* rapporteer verdagtes onmiddellik by die polisie of plaaslike GPF;

* bejaardes word aangeraai om tellermasjiene nie alleen te besoek nie – neem iemand saam of doen jou transaksie binne die bank.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button