Terugblik op die week se misdaadnuus in Nigel
NIGEL - Ondersoek is ingestel nadat Noycedale inwoners op die karkaste van sowat agt diere afgekom het.
Die gru-ontdekking is op 29 Junie gemaak toe twee vroue omstreeks 14:00 in die veld langs John Vorster Stadion gestap het. Die uitgedroogde karkasse is in ‘n sloot gekry. Die Veediefstaleenheid, Nigel Departement van Gesondheid en Nigel SPCA is ingeroep om ondersoek in te stel, maar volgens polisiewoordvoerder A/O Madeleine von Wielligh, is besonderhede van die slagting nog nie bekend nie. Dit wil egter voorkom of iemand van die kop, gebeentes en velle van die diere ontslae wou raak deur dit in die sloot te gooi. Die karkasse is deur die Departement van Gesondheid verwyder.
Die polisie waarsku inwoners van Sektor 1 (Noycedale) dat diewe tussen 02:00 en 03:00 bedrywig is om allooiwiele (mags) van voertuie wat buite geparkeer is, te steel. Daar was ook ‘n inbraak by ‘n huis in Burgerstraat op 28 Junie.
Die liggaam van ‘n onbekende man is op 29 Junie in ‘n groenteland op ‘n plaas buite die dorp gevind. Dit is nie bekend hoe die man gesterf het nie en sy identiteit is ook nie bekend nie. Polisie ondersoek die voorval.
‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek nadat ‘n 67-jarige man en 60-jarige vrou deur ‘n vragmotorbestuurder doodgery is. Die voorval het op 1 Julie omstreeks 18:55 op die R550 by die Vlakfontein afdraai (Nigel/Devonpad) plaasgevind. Volgens A/O Von Wielligh was die man en vrou te voet toe die vragmotor vanuit Nigel se rigting, hulle getref het. Reddingswerkers het die man en vrou op die toneel dood verklaar.
In ‘n ander voorval is ‘n man dood terwyl hy besig was om die binnekant van ‘n sandsilo by Consol Glass Nigel skoon te maak. Die fratsongeluk het om 15:00 op 3 Julie plaasgevind. Volgens A/O Von Wielligh het ‘n sandmuur inmekaar gestort en twee mans het na benede geval. Een van hulle is onder ‘n vrag sand begrawe, terwyl die ander halflyf onder die sand beland het. Hoewel beide aan reddingslyne verbind was, kon hul toesighouer weens die gewig daarvan, nie daarin slaag om die man wat onder die sand begrawe is, uit te trek en na veiligheid te bring nie. Die voorval word deur die polisie ondersoek.



