30 Jaar tronkstraf vir gewoontemisdadiger
NIGEL - ‘n Gewoontemisdadiger wat homself verskeie kere aan huisbraak in Dunnottar skuldig gemaak het, is op 20 September tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 28-jarige Mosambieker Franz Cossa, het sy rieme styfgeloop toe hy op 14 Maart deur twee lede van Dunnottar GPF vasgetrek is. Dit het tot ‘n struweling tussen die mans gelei, waartydens Cossa een van die mans met ‘n skroewedraaier aangeval het. Hy is later deur lede van Dunnottar polisie gearresteer en verskeie gesteelde goedere is in sy besit gevind.
A/O Kunene en Konst Barnard het verskeie ooreenkomste tussen Cossa se vingerafdrukke en dié wat tydens vorige diefstalsake geneem is, gevind. Die vingerafdrukke is deur die polisie se forensiese afdeling bevestig en daar is bevind dat Cossa oor vorige veroordelings van huisbraak beskik.
Cossa het op 12 September op vier klagtes van huisbraak met die opset om te steel, ‘n klag van aanranding en klag van besit van gesteelde eiendom in Nigel Streekshof verskyn.
Staatsaanklaer Bradford Dias het Cossa se vorige veroordelings aan die hof voorgehou en na hom as ‘n gewoontemisdadiger verwys. Dias het ‘n minimum vonnis van sewe jaar per klag as billik en regverdig voorgestel.
Tydens die vonnis wat op 20 September aangehoor is, het die streekshof landdros Mnr Juan Voogt die vorige veroordelings in ag geneem toe hy Cossa tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis het.



