
Duisende liters water het verlore gegaan toe ‘n waterpyp in Strydomstraat waarskynlik deur die nag gebars het. Toe Magdel van Dyk vanoggend voor 07:00 by Afgri in Ueckermannstraat opdaag, het sy net water gesien. Die water het deur die onderneming se erf en af in Ueckermannstraat gestroom.
Lesedi Plaaslike Munisipaliteit is glo om 07:00 geskakel. Die noodnommers is omstreeks 07:15 geskakel en munisipale werkers het om 07:35 opgedaag en die hooftoevoer afgedraai. Hulle het dadelik aan die werk gespring en is tans besig om die probleem te herstel. Volgens die werkers op die toneel sal dit tussen een en twee ure vat om die gat in die pyp te herstel.
Nog ‘n munisipale werker het gesê dit is jammer dat die publiek hulle nie vroeër geskakel het nie. Dit lyk of die probleem gedurende die nag ontstaan het.
Die munisipale noodnommers is: 016 492 0041 of 016 492 0039. Die brandweer se beheerkamer kan ook in tye van nood by 016 341 4327/3116 geskakel word.






