News

Heidelbergers ontsteld nadat Heidelberg Mediese Vrywilligers ontbind

Diegene sonder ‘n mediese fonds die meeste bekommerd.

Vir die afgelope agt jaar kon inwoners van Heidelberg op die dienste van die Heidelberg Mediese Vrywilligers staatmaak om bystand te lewer terwyl daar vir nooddiens personeel gewag word.

Hierdie diens is op 14 Julie deur stigterslid Elzona Meyer gestaak. Intussen het sowat 1 300 mense op ‘n Facebook meningspeiling wat deur Elize Botha van stapel gestuur is, gestem en 99% het gesê dat hierdie diens moet voortbestaan.

Daar word beweer dat die vrywillige diens na afloop van die meningspeiling weer hervat gaan word, maar die inligting kon ten tyde van ter perse gaan nie deur Meyer bevestig word nie. Meyer  is op verskeie geleenthede vir  kommentaar genader, maar kon dit nie voor spertyd verskaf nie.

Arm ouma nou aan staat uitgelewer
Dit was veral diegene wat nie aan ‘n mediese fonds behoort nie wat uit hierdie barmhartige diens gebaat het aangesien die vrywilligers, in samewerking met die Gemeenskaps Polisiëring Forum (GPF), blitsvinnig op noodgevalle reageer het.

Dit is alombekend dat spoedige reaksie tydens noodgevalle dikwels die verskil tussen lewe en dood beteken. Volgens mede-stigterslid Willem Sprong is die Heidelberg Mediese Vrywilligers op die been gebring nadat polisie reservis Pieter Smit agt jaar gelede geskiet is en daar nie onmiddellik medici beskikbaar was nie.

Sprong het verduidelik dat een van die hoofredes waarom die diens gestig is, was omdat die provinsiale ambulansdiens nie op daardie stadium oor betroubare voertuie beskik het nie.

“Die einde van die vrywilligers is ‘n groot verlies vir die dorp, want hulle het ‘n uitstekende diens gelewer,” het Sprong gesê.

 

“Dit is egter nie die einde van die wêreld nie, aangesien die provinsiale nooddienste instussen aansienlik verbeter het en Emer-G-Med steeds bestaan.” Sprong meen dat baie inwoners ook misbruik van die gratis diens gemaak het en terwyl hy erken dat talle besighede die inisiatief ondersteun het, dit maar ‘n gesukkel was om onkostes te dek.

“Buiten die hulp van ‘n paar barmhartige samaritane wat gereeld skenkings gemaak het, was dit maar moeilik om kop bo water te hou,” vertel Sprong wat sodat twee jare gelede sy betrokkenheid by die mediese vrywilligers gestaak het.

Emer-G-Med kan jou steeds red – mits jy kan betaal
Dit het intussen gewoonte geword dat indien persone in Heidelberg ‘n mediese noodgeval ervaar, hulle eerste Emer-G-Med moet skakel aangesien hulle reaksietyd die vinnigste is.
Die nadeel hier is egter dat indien die pasiënt nie oor ‘n mediese fonds beskik nie, hulle ongelukkig nie kan help nie.

Die geleenthede wat die maatskappy hierdie pasiënte na Heidelberg hospitaal vervoer het, is hulle glo ook weggewys en aangesê om die pasiënte op hul onkoste na hospitale buite die dorp (Vosloorus) te neem. Volgens verskeie voormalige lede van Heidelberg Mediese Vrywilligers wat met HERAUT gesels het, is daar dikwels op ongelukstonele eers bevestig of die beseerde persone wel oor ‘n mediese fonds beskik voor hulle ontbied is.

Hierdie praktyk het eers onlangs in werking getree en is deur verskeie organisasies verwerp. Die kameel se rug het uiteindelik geknak toe ‘n individu wat deur die jare Emer-G-Med van ongelukke in kennis gestel het, se familied in nood na bewering nie deur Emer-G-Med gehelp is nie, weens die afwesigheid van ‘n mediese fonds.

‘n WhatsApp boodskap waarin die persoon sy misnoeë uitgespreek het, het kort daarna soos ‘n veldbrand deur die gemeenskap versprei. In die boodskap verduidelik ‘n woedende man dat hy “nooit weer vir Elzona van ongelukke sal laat weet nie.

Hy voer ook aan dat die lewens van mense belangriker moet wees as die inkomste wat uit hierdie tragedies gemaak word. Wat belangrik is om hier in ag te neem, is dat Emer-G-Med, wat glo deel van die First Road insleepdiens maatskappy vorm, die mediese vrywilligers as die hoeksteen van sy besigheid gebruik het.

Namola nou die beste opsie
In die lig van ‘n twis tussen ‘n groep individue wat uiteindelik die einde van ‘n onmisbare diens beteken het, is daar egter goeie nuus vir inwoners wat dringend mediese hulp benodig – en dit is die Namola App.
Hierdie program wat gratis op enige slimfoon afgelaai kan word, bied inwoners ‘n direkte lyn na polisie en noodienspersoneel en die reaksietyd word nie op grond van toegang tot ‘n mediese fonds gemeet nie. Gaan na https://namola.com/download/om die Namola App af te laai.

Follow us on:

         

Facebook      Twitter

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button