Nigel Tuiste vir Bejaardes se oudste inwoner word binnekort 98 jaar oud
Sannie is op 24 Augustus 1920 op ‘n plaas by Reddersburg in die Vrystaat gebore, waar sy tot die ouderdom van 16 jaar ‘n plaasskool bygewoon het.
As daar een ding is wat Sannie Smit op die rype ouderdom van 97 jaar nog graag wil doen, is dit om haar Bybel te lees, maar weens verswakte sig is sy op ander mense aangewese om aan haar ‘n daaglikse boodskap uit die Groot Boek te lewer.
Daarna het sy na Bloemfontein verhuis waar sy haar man ontmoet het en op 19-jarige ouderdom het sy in die huwelik getree. Sy het destyds lakens en kussingslope vir die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein gemaak, maar kort daarna het Transvaal die Smit-egpaar gelok en hulle het ‘n kleinhoewe by Vischkuil buite Springs gekoop.
Met sewe jong dogters het daar egter ‘n paar moeilike jare vir Sannie voorgelê toe haar man skielik in die ouderdom van 49 jaar weens ‘n beroerte gesterf het. Sy het egter ‘n manier gevind om kop bo water te hou en het vir 73 jaar op die plot gewoon, voordat sy Nigel Tuiste vir Bejaardes haar nuwe huis gemaak het.
Behalwe vir sigprobleme, is Sannie redelik gesond en wanneer die ledemate haar toelaat, kuier sy graag bedags by haar vriendinne.
“Die dae raak lank wanneer ‘n mens niks het om te doen nie. Ek mis dit om naaldwerk te doen en soms probeer ek ‘n boek lees, maar ek moet my bril en ‘n vergrootglas gebruik,” het sy tydens HERAUT se besoek gesê.
Behalwe vir 19 kleinkinders en 39 agterkleinkinders, is Sannie een van min mense wat met agter-agterkleinkinders ook kan spog.
Met haar 98ste verjaardag om die draai, gaan Sannie binnekort vir ‘n maand by familie op ‘n plaas in die Roedtan-distrik kuier. Sy geniet die plaaslewe en sê dit is ook heelwat warmer in die Roedtan omgewing.
Volg ons op:



