News

Hoe veilig is jou gassilinder?

Lekkende gassilinders kan byvoorbeeld ontvlam of ‘n reuseontploffing tot gevolg hê.

Gas is soos kookwater – gebruik dit korrek

Beurtkrag of koue weerstoestande noodsaak soms die gebruik van alternatiewe kragbronne soos gassilinders om die kospotte aan die gang te hou of hitte te verskaf. Maar dit kan ernstige gevare inhou indien dit nie reg gebruik word nie.

Lekkende gassilinders kan byvoorbeeld ontvlam of ‘n reuseontploffing tot gevolg hê.

HERAUT het juis berig hoe Barnie Coetzee op 21 Mei verlede jaar erge brandwonde opgedoen het tydens ‘n gasontploffing in sy motorhuis.

‘n Onlangse voorval waartydens ‘n gassilinder by ‘n huis in Overkruin ontvlam het, het weereens die gevare daarvan in en om die huis opnuut uitgelig.

Gasverskaffers meen egter dit is nie altyd die gas wat die skuld moet kry nie en dat gasverbruikers nie altyd vertroud is hoe om dit korrek te gebruik nie.

Dit is uiters belangrik dat gasverbruikers gereeld na hul gastoestelle laat omsien deur geregistreerde, professionele verskaffers.

Volgens aanduiding gebeur die meeste ongelukke wanneer gas lek – dit is nie die silinder wat ontplof soos heelwat mense glo nie.

’n Gasdamp word gevorm wat dan ’n vuurbol veroorsaak wanneer ‘n vuurhoutjie getrek word. Die suisgeluid wat ’n mens hoor, is wanneer die gasmengsel ontvlam.

Brandende gassilinders moet nooit met water gespuit/gedoof word nie en die aanbeveling is om die gebied dadelik te ontruim en die silinder te los sodat dit self uitbrand.

‘n Ontploffing sal slegs ontstaan wanneer ‘n gasmengsel ontvlam.

Só word ongelukke met gas vermy

  • Meeste gasongelukke word deur lekkasies veroorsaak.
    Maak dus seker daar is geen vloeibare petroleum gas (LPG) wat uit die gassilinder lek nie.
  • ’n maklike toets is om ’n flou opwasmiddel en water-oplossing op die pyp en die toestel te spuit.
    Indien daar ’n lek is, sal borrels vorm. LPG ruik soos vrot eiers, indien dit die geval is, maak die silinder toe en raak ontslae daarvan.
  • Dit is onwettig om self aan gastoestelle te werk. Neem alle gastoestelle na ’n geregistreerde verskaffer indien enige werk gedoen moet word.
  • Hoewel die krag afgeskakel mag wees en die elektriese stoof nie werk nie, moet nooit ’n silinder bo-op ’n stoof plaas nie.
  • Gassilinders mag nie aan direkte hitte blootgestel word nie. Stoor dit in ’n koel, veilige droë plek.
  • Die seël tussen die plaat (cooker) en silinder moet gereeld nagegaan word.
    Net soos met warm kookolie of kookwater moet daar versigtig met LPG gewerk word en nie deur kinders hanteer word nie.
  • Wanneer silinders hervul word, moet dit nie oorvol gemaak word nie.
    As die gassilinder beweeg, moet daar nog ’n vry ruimte binne die silinder wees.
    Wees gasveilig.

Vir meer inligting, besoek www.lpgas.co.za.

Volg ons:

         

Facebook      Twitter

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button