BusinessNewsSponsored

Staat se salarisrekening melk fiskus droog

In ‘n persverklaring wat handel oor die parlementêre debat: eerste kwartaal se vorderingsverslag van die departement van openbare diens en administrasie, sê die VF Plus die staat se salarisrekening is besig om geld wat die land aan die gang moet hou, met reëlmatige toename te verorber terwyl vakbonde aandring op groter porsies.

“Tog word die privaatsektor en witmense van die land gereeld die sondebok gemaak vir die land se probleme,” het Heloïse Denner (VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: openbare diens en administrasie) gesê.

Volgens VF Plus maak die regering se salarisrekening tans 34% van die nasionale begroting uit, wat beteken dat R340 uit elke R1 000 wat die regering bestee, aan salarisse gaan. Verder sê VF Plus dat salarisse in die tydperk van 2006/07 tot 2018/19 meer as verdriedubbel het van R154 miljard tot R518 miljard.

“Staatsamptenare wat meer as R1 miljoen per jaar verdien, het gedurende dieselfde tydperk van 9 600 tot 29 000 toegeneem. Tog word die privaatsektor gereeld uitgekryt as die grootste sondebok vir die ANC se mislukkings.  Die privaatsektor is die grootste werkskepper in Suid-Afrika, ten spyte van reusagtige struikelblokke wat grootliks deur die staat geskep word,” het Denner bygevoeg.

Die gemiddelde salaris in die privaatsektor is R273 000 per jaar, teenoor die gemiddelde salaris in die staatsdiens van R393 000 per jaar. Daarvolgens sê VF Plus, dra die privaatsektor daadwerklik by tot werkskepping en die uitbou en bevordering van die land se ekonomie, terwyl daar nie dieselfde van die staat gesê kan word nie.

“Dalk is dit tyd dat die staat begin kyk na die privaatsektor as dit kom by bestuur en personeelaangeleenthede en sy huis in orde kry. Pogings van die departement van openbare diens en administrasie om bedrog en korrupsie in die staatsdiens te bekamp deur amptenare te verbied om sake met enige staatsinstelling te bedryf, word verwelkom, alhoewel dit eintlik ‘n gegewe moet wees,” aldus Denner.

Vordering met die kantoor van standaarde en nakoming in die openbare sektor word ook verwelkom, maar volgens Denner spreek dit vanself dat ‘n mens van die staat sou verwag om werk te lewer wat aan die voorgeskrewe reëls en standaarde voldoen.

“Nog ʼn groot probleem is ʼn totale gebrek aan verantwoording. Die rede hiervoor kan in politieke-kaderaanstellings gesoek word. Die staatskas is leeg.  Daar is nie meer reserwes nie en die land kan nie op dié wyse voortgaan nie. Reëls en regulasies moet toegepas word. Wette is nie blote riglyne nie,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button