
Sy is ‘n Heidelberger wat nie graag in die kollig wil wees nie. Hoewel Suzan Basson veral bekend is as algemene bestuurder van Crime Stop Sekuriteitsdienste, is sy by soveel meer organisasies in Heidelberg agter die skerms betrokke. Dit is veral nie-winsgewende projekte en mense wat swaar trek wat haar na aan die hart lê.
Suzan het pas geskiedenis gemaak toe sy as Heidelberg Besigheidskamer se eerste vroulike president verkies is. Wanneer sy iets aanpak, gebeur dinge vinnig en ordelik.
Sy kan lekker uit haar maag lag en is altyd op ‘n drafstap, maar moet nie dié oud polisiekaptein onderskat nie. Sy is streng, gedissiplineerd en draai nie doekies om nie, tog het sy ‘n sagte hart wat nie almal altyd raaksien nie. Sy wou maatskaplike werker word voor sy ‘n onderhoud by die SAPD gelsaag het en haar lewe ‘n ander rigting ingeslaan het.
“Ek is opgewonde oor die nuwe bestuur van die besigheidskamer wat vanjaar uit meer lede van die vroulike geslag bestaan. Die kamer moet ‘n spreekbuis vir die hele Heidelberg wees. Dit is nie ‘n sosiale klub nie, maar besigheidslui vind hier bondgenote wat vir mekaar omgee,” het Suzan gesê
Sy is in Heidelberg gebore en het hier grootgeword voor sy ná matriek aan Hoër Volkskool by die polisie aangesluit het. Sy het in 2000 by Crime Stop en dieselfde jaar by die besigheidskamer aangesluit.
“Die nuwe bestuur is ‘n lieflike span wat uit sterk besigheidsmense bestaan. Hulle is bekwaam en ek het volle vertroue in hulle. Ek is ernstig oor besighede, veral nuwe besigheide van ons mooi dorp. Dit is belangrik vir ‘n iedere en elk in Heidelberg om jouself af te vra wat doen jy om die besigheid langs jou by te staan en te bemark. Besighede verskaf werk aan ons gemeenskap. Dit is belangrik,” het Suzan voortgegaan.
Sy onthou nog die eerste sekuriteitswag wat saam met haar in 2000 by Crime Stop gewerk het. Themba Mahlangu werk steeds vir die onderneming en vandag sorg hy vir 10 familielede wat nie moontlik sou wees as hy nie werk gehad het nie. “Dit gee mens ‘n warm gevoel om jou hart as jy weet dat jy ‘n verskil in ‘n hele familie se lewe kon maak.
Daar is een ding wat my pa my geleer het en wat ek tot vandag nog toepas – BSC (basic common sense). As jy jou gesonde verstand volg met baie genade van Bo, dan sal dit met jou goed gaan. Moet ook nooit ophou droom nie,” het Suzan afgesluit.



