‘n Nuwe era is by Heidelberg Besigheidskamer ingelui toe ‘n vrou vir die eerste keer in die 35-jarige bestaan van die kamer as president verkies is. Suzan Basson gaan voortaan die leisels vasvat nadat ‘n nuwe bestuur op 12 November verkies is.
Nico van Huyssteen, oud-president en ook die langsdienende president van die kamer, het ‘n beroep op die nuwe bestuurslede gedoen om hul beste te gee en die kamer vir nog 35 jaar te laat voortleef.
”Gee van jouself en wees bereid om op te offer,” het hy gesê.
Die volgende lede is tot die bestuur verkies: Suzan Basson, Dilana Howell, Yolandi Boshoff, Douw Bezuidenhout, Brenda Scott, Petro de Witt, Suanette du Toit, Steve Bannister en Van Zyl Schultz (uittredende president).
Basson sê dis verblydend om te sien dat nuwe besigheidslui hulself beskikbaar gestel het en sy is veral opgewonde oor die feit dat die dames (vir ‘n verandering) in die meerderheid is. (Lees ‘n volledige berig oor die mens agter die nuwe besigheidskamer se president in volgende week se uitgawe van HERAUT).




