CrimeNews

Geen borgtog vir verdagte in polisieman se moordsaak

In net minder as twee ure is Jan de Villiers se borgtogaansoek in Nigel Streekhof deur Mnr Juan Voogt van die hand gewys.

Die 21-jarige man staan tereg op die moord van SAPD-lid A/O Johan Lewis wie se liggaam op 13 Januarie onder verdagte omstandighede in ‘n plaasdam buite Nigel gevind is. A/O Lewis het vermoedelik in die uitvoering van sy pligte as polisieman met sy lewe geboet toe hy De Villiers wat op ‘n onpadvaardige motorfiets gejaag het, agternagesit het.

De Villiers se regsverteenwoordiger Advokaat Van Wyngaard het tydens die hofverrigtinge telkens na sy kliënt se jeugdige voorkoms en klein postuur verwys en Mnr Voogt het daarop gewys dat dit maklik is om deur ‘n uiterlike voorkoms beïnvloed of mislei te word.

“Die beskuldigde is ‘n volwasse man wat sy hoërskoolloopbaan voltooi en die arbeidsmark suksesvol betree het. Hy is 21 jaar oud en daarvolgens word hy as ‘n volwassene verhoor,” het Mnr Voogt gesê.

Hy het bygevoeg dat moord, veral moord op ‘n polisiebeampte as ‘n ernstige misdaad (skedule 6 misdryf) beskou word en dat daar voldoende en geldige redes moet bestaan waarom die hof die borgaansoek moet toestaan, aangesien ‘n persoon wat van ‘n ernstige misdaad aangekla word, ‘n gevaar vir die samelewing kan inhou.

Volgens sy regsverteenwoordiger, het De Villiers glo uit noodweer of privaat verdediging uit vrees vir die oorledene opgetree. Hy het die hof versoek dat dié verweer objektief beoordeel word en dat die klag eerder dié van manslag as moord behoort te wees. Vermeende of vermeende privaat verweer hou verband met die geestelike toestand van ‘n beskuldigde en De Villiers is gevolglik vir sielkundige evaluasie na Dr Gertie Pretorius verwys.

In sy uitspraak het Mnr Voogt na Dr Pretorius se verslag verwys waarin sy borgtog aanbeveel en gesê sy kom bevooroordeeld voor deur in haar beslissing te sê dat De Villiers weens ‘n byna-verdrinking en ‘n ander noue ontkoming in sy jonger dae, nou aan post-traumatiese stressindroom ly. Mnr Voogt het bygevoeg dat daar geen mediese rekord bestaan om die bewering te staaf nie en dat daar ook geen stresverwante medikasie of anti-depressante as behandeling voorgeskryf is nie. Hy het verder beklemtoon dat ten tye van die voorval het De Villiers ‘n normale lewe gelei, dat hy in ‘n verhouding met ‘n 16-jarige meisie was en dat hy as voorman op hul familieplaas gewerk het.

“Die beskuldigde het die oorledene geken en hom as ‘n polisieman geïdentifiseer. Hy het in sy verklaring erken dat daar die vorige dag ‘n konfrontasie tussen homself en die oorlede was nadat laasgenoemde hom in die openbaar betrap het waar hy dagga gerook het en waarop hy vir die oorledene gesê het: “Oom, jy kan my nie teister nie.”

Die feit dat De Villiers op geen stadium tydens die sogenaamde konfrontasie of na die voorval waarin A/O Lewis dood is, enige hulp ontbied het nie, spreek ook van kwaadwilligheid.

“Die beskuldigde het nie eens probeer om die oorledene uit die water te probeer trek nie. Inteendeel, hulle het op die motorfiets na sy meisie se woning gery en besluit om te gaan slaap, sonder om enige persoon van die gebeure in kennis te stel. Die hof is daarom nie oortuig dat die beskuldigde eerbaar in sy optrede was nie. Die oorledene se dood is nie net ‘n verlies vir sy familie nie, maar vir die hele gemeenskap en daarom kan ek nie borgtog toestaan nie,” het Mnr Voogt afgesluit.

Die saak is tot 2 April vir verdere ondersoek uitgestel en sal na verwagting deur die direkteur van openbare vervolging na die Hooggeregshof oorgeplaas word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button