Onveranderde werkloosheidskoers bewys ekonomiese agteruitgang
Die onveranderde werkloosheidskoers van 29.1% vir die vierde kwartaal van 2019 is kommerwekkend, maar ʼn groter rede tot kommer is die feit dat die persentasie mense wat vir 'n jaar of langer werkloos is, oor die afgelope 10 jaar met sowat 60% toegeneem het.
Volgens Heloïse Jordaan (VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: arbeid) dui dié syfer op ‘n ekonomiese agteruitgang weens ‘n swak regering en ondeurdagte beleidsrigtings.
“Dit verduidelik waarom ontmoedigde werksoekers wat vanaf die derde na die vierde kwartaal van 2019 met 62 000 toegeneem het, steeds vermeerder,” het Jordaan gesê.
Swak ekonomiese groei en regeringsbeleid soos onteiening sonder vergoeding, nasionale gesondheidsversekering, swak dienslewering, beurtkrag en die ineenstorting van plaaslike regering, lei tot die werkloosheidskrisis in Suid-Afrika.
Die departement van arbeid, wie se mandaat ook na werkskepping uitgebrei is, kom soos die regering duidelik nie die mas op nie. Verandering is nou meer nodig as ooit.
“Daar moet vir eers op ‘n gesonde ekonomie gefokus word. Daarsonder sal die werkloosheidskoers aanhou styg,” het Jordaan aangeraai.
Hennie Claasen, finansiële adviseur van Old Mutual vir die afgelope 33 jaar, sê dat die groeiende werkloosheidsyfer vir Suid-Afrikaners vreesaanjaend is.
“Verbeel jou ses maande sonder jou normale inkomste. Jy het ‘n voertuig paaiement of huisverband wat elke maand betaal moet word.” Claasen meen dat daar wel produkte op die mark is wat werknemers se inkomste vir ses maande kan verseker na aflegging. “Sekere beroepe is egter uitgesluit en jy moet ten minste twee jaar in diens van jou huidige werkgewer wees om te kwalifiseer,” het hy benadruk.
Hy meen dat ‘n finansiële bydrae vir ses maande talle persone wat hul inkomste verloor, van ‘n dieper verknorsing kan red sodat noodsaaklike maandelikse paaiemente nie onbetaald gelaat word nie.
“Met hierdie tipe belegging skep jy vir jouself ‘n belangrike pouse wat vir jou tyd skep om na ‘n ander betrekking te soek.”
Claasen kan by 082 452 1858 vir meer inligting hieromtrent geskakel word.



