Mnr De Villiers sê dit kan tot ses maande duur voor ‘n nuwe hoof gekeur en aangestel word. Intussen gaan niks by die skool verander nie en hy het volle vertroue in die skool se personeelkorps onder leiding van die bestaande departementshoofde wat nie in die nabye toekoms gaan verander nie.
“Die suksesse wat ons tans ondervind is onder andere as gevolg van ‘n uitstekende beheerliggaam wat ook daarvoor gesorg het dat die skool ‘n goeie verhouding met die Gautengse Departement van Onderwys opgebou het.
“Ons leerdertal het vanjaar met 70 gegroei en dit is ook te danke aan ouers en beheerliggaamslede wat in die skool glo. Ek wil ons ouers gerusstel dat Hoër Volkskool steeds ‘n skool van uitnemendheid sal bly. Ons het hard daaraan gewerk om met groter stadskole mee te ding,en ons getalle asook sport-, kultuur- en akademiese prestasies wys dat ons dit reggekry het,” het Mnr De Villiers gesê.
Hy het ouers aangemoedig om hom of die departementshoofde oor leerder- of ander skoolsake te nader.
“Ons volg ‘n oopdeur beleid. Dissipline is belangrik en ek glo dat ‘n goeie gees in die skool hand aan hand met goeie dissipline loop. ‘n Volkie laat nooit sy skool in die steek nie,” het Mnr De Villiers afgesluit.
Mnr Neels de Villiers belowe dat hy as waarnemende hoof die leisels by Hoër Volkskool stewig sal vashou tot ‘n nuwe hoof aangestel word.



