NewsSchools

Plaaslike skole gereed om leerders te verwelkom

HERAUT het by die plaaslike skole ingeloer om te hoor of hulle gereed is om Graad 7- en Graad 12-leerders op 1 Junie te ontvang en om ouers die gemoedsrus te gee dat alles in plek is om hul kinders se veiligheid by die skool te verseker.

Hoër Volkskool het ongeveer R25 000 uitgelê om voldoende reinigingstasies op te rig om Graad 12s se veiligheid te verseker.

Laer Volkskool is ook slaggereed om Graad 7-leerders te ontvang. Volgens Mnr Piet Strydom (hoof) het hulle genoeg volgesig-maskers vir elke leerder aangeskaf en sal leerders ‘n spesiale induksieprogram op die eerste dag terug volg.

“Personeel meld reeds op 25 Mei aan en die departement voorsien beskermingsdrag aan personeel en leerders,” het Mnr Strydom bevestig.

Hy het bygevoeg dat die skool intussen temperatuur termometers aangekoop het en dat hulle oor twee reinigingstasies beskik.
Laerskool AG Visser verwag ongeveer 80 Graad 7-leerders terug en volgens die hoof Selma Marx, word alle skole voor die terugkeerdatum behoorlik skoongemaak.

Die department verskaf die nodige veiligheidspakkette en het die versekering gegee dat geen skool sy deure sal open indien alles nie 100% in plek is nie.

“Ons bestuurspan is in samewerking met die beheerliggaam besig met beplanning rondom die indeling van klasse sodat die leerders ten minste 1.5m weg van mekaar af sit en beweeg. Die bestuurspan is ook besig om koppe bymekaar te sit rakende die kurrikulum,” het Marx gesê en bygevoeg dat ouers gereeld op hoogte gehou sal word van nuwe verwikkelinge.

In Nigel sien Laerskool Hannes Visagie met opgewondenheid uit om Graad 7-leerders terug te ontvang en sê dat alle administratiewe geboue reeds gereinig is.

Volgens Madele van Vuuren (hoof) het die skool reeds hul beskermingsdrag van die departement ontvang, maar het hulle ook hul eie reinigingsmiddels aangekoop en reinigingstasies wat met ‘n voetpedaal werk, in die voorportaal aangebring waar leerders die skool sal betree. Siftingstoetse soos die neem van temperatuur sal ook daagliks uitgevoer word en alle data word in ‘n boek aangeteken.

Laerskool Tini Vorster het nuwe roosters vir hul Graad 7-klasse uitgewerk en geen klaswisseling sal na heropening van die skool op 1 Junie plaasvind nie. Volgens Lorraine Rudman, word die Graad 7s in vyf klasse opgedeel en elke klas word van ‘n data-projektor voorsien om dadelik met kurrikulum onderrig weg te spring.

“Die leerders bly by dieselfde bank sit, terwyl onderwysers van klas verwissel.”

Die departement het intussen ook die nodige veiligheidspakkette beskikbaar gestel, maar met behulp van die beheerliggaam, het Laerskool Tini Vorster addisionele reinigingsmiddels aangekoop en ouers het tot tuisgemaakte maskers bygedra. Leerders wat nie hul eie maskers kan bekostig nie, sal van een voorsien word.

Related Articles

Back to top button