CrimeNewsBreaking News

Afgetrede onderwyser wreed aangerand

"Wat presies vier weke gelede by ons huis gebeur het, kan niemand met sekerheid sê nie, maar die feit dat Amanda die aanval oorleef het, getuig van God se genade."

Dit was Div Horak se woorde toe hy oor die traumatiese gebeure van 9 Julie gepraat het. Div het die Donderdag-middag op sy 67-jarige vrou afgekom waar sy bebloed in die badkamer gelê het. Die huis was deurmekaar met bloed teen die muur en op die grond en items soos Div se iPad, ‘n selfoon, kontant en sleutels was weg.

Amanda het geweldige kopbeserings opgedoen en was nie in staat om te praat nie, maar vir Div was dit duidelik dat ‘n huisroof hier afgespeel het. Hy kon sien dat dié tenger afgetrede onderwyser wreed aangerand en vir dood agtergelaat is. NCOP-lede wat intussen by die toneel opgedaag het, het ‘n ambulans ontbied en Amanda is eers na Life Suikerbosrand Hospitaal in Heidelberg geneem, waarna sy na Netcare Unie Hospitaal in Alberton oorgeplaas is. Haar toestand was kritiek en ‘n breinskandering het gewys dat sy weens ‘n harde hou teen die kop skedelbreuk opgedoen het. Sy is ses dae later teater toe, waar ‘n prosedure uitgevoer is om drukking op haar brein te verlig.

“Die operasie was suksesvol en sedertdien maak Amanda stadig maar seker vordering. Sy sukkel nog met spraak en ontvang fisioterapie om beweging van haar ledemate te bevorder, maar die dokter is tevrede,” het Div gesê.

Nuus oor die aanval het die gemeenskap geruk en die familie word met boodskappe en oproepe oorval. Div sê dit is vir hom ‘n riem onder die hart om die gemeenskap se liefde en ondersteuning gedurende moeilike tye so intens te ervaar en hy het elkeen vir hul omgee-boodskappe bedank.

“Ons was platgeslaan deur die voorval, maar Amanda is geliefd en immergewild aangesien sy die afgelope 44 jaar as onderwyser by Laerskool Tini Vorster ingeklok het. Behalwe vir vriende en familie wat gereeld navraag doen en woorde van bemoediging stuur, is daar talle kollegas en oud-leerders wat haar daagliks in gebed opdra. Ons staan verstom voor God en hierdie ondersteuningsnetwerk en ons harte loop oor van dankbaarheid,” het Div gesê.

In ‘n spesiale boodskap het die bekende musikant en jarelange vriendin van Amanda, Sonja Herholdt die volgende gesê: “Jy is ‘n klein vegter Amanda. Dinamiet kom in klein pakkies en jy het dit bewys want jy gee nie op nie. Onthou, ons stryd is nie teen vlees en bloed nie en waar daar lewe is, is hoop. Ons staan saam in gebed en glo jy gaan volkome herstel.”

Nog ‘n wonderwerk waaroor Div nie uitgepraat raak nie, is die feit dat Amanda tydens haar hospitaalbehandeling positief vir Covid-19 getoets het, maar dat sy selfs die gevreesde virus met haar tenger liggaamsbou beveg het. Sy is nou virusvry en fokus elke dag op goeie vordering.

Die pad na volkome herstel sal na verwagting lank en vol uitdagings wees, maar Div en hul twee dogters Mandi en Marise kan nie wag om Amanda tuis te verwelkom nie. Sy volg tans ‘n rehabilitasieprogram en sodra die dokter tevrede is met haar vordering, sal sy ontslaan word om tuis verder aan te sterk.

Sers Nellie Dwaba (Nigel SAPD woordvoerder) het bevestig dat ‘n saak van huisroof en poging tot moord ondersoek word, maar dat die verdagtes nog nie vasgekeer is nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button