Heidelberg leerders terug skool toe
Personeel van Shalimar Rige Primary School was pro-aktief om ouers voor te berei vir leerders se terugkeer na die skool. Whatsapp-groepe is vir ouers geskep waar hulle daagliks wenke ontvang om met die kinders te deel. Dra van maskers, sosiale afstand, hande was, die deel van skryfbehoeftes en etes wat nie toegelaat word nie en vriende met die elmboë groet, was van die wenke wat met die ouers gedeel is.
Die skool het twee maskers aan elke kind geskenk. Slegs een ingang is oop vir kinders. By hul aankoms word Covid-19-regulasies gevolg waar temperatuur geneem word en hande gesanitiseer word. Klasse is verdeel sodat die helfte van die klas op Maandae en Dinsdae skoolgaan en die ander helfte op Woensdae en Donderdae. Die ouers moet daagliks ‘n vraelys voltooi om hul kinders se simptome te monitor. As die kind enige simptome het soos nies, hoes of ‘n temperatuur, moet die kind tuis bly.
“Ek is baie bly dat my seun terug by die skool is. Ek het nuwe respek vir onderwysers gekry toe ek met tuisonderrig gesukkel het. My seun het sy vriende gemis, maar sy onderwyseres die meeste,” het Jabulile Dlalisa gesê.
*Laer Volkskool het hul periodes en pouses aangepas om te verhoed dat te veel kinders in ‘n klas of gelyktydig op die terrein tydens pouse is.
“Die onderwysers het nuwe vaardighede aangeleer tydens die inperking en ons het besef dat die gebruik van tegnologie uiters belangrik is vir die toekoms van ons kinders en opvoedingsstelsel,” het Mnr Piet Stydom (hoof) gesê.
Die skool het ook interaktiewe wit borde aangeskaf wat sal bydra tot die tegnologiese mediums van skoolgee.

*Laerskool AG Visser is verlig dat meer as 90% van hul leerders terug gekeer het skool toe. Graad 4-onderwysers het op 24 Augustus met gemengde gevoelens van kommer en dankbaarheid die kinders terug verwelkom.
Sommige onderwysers wat verkies om annoniem te bly, het teenoor HERAUT erken dat hulle weens volgehoue dra van maskers soms benoud raak en sukkel met brille wat opwasem. Tog is hulle dankbaar om terug op die pos te wees en het ouers verseker dat daar baie goed na hul kinders by die skool omgesien word.



