NewsSchools

Leer ons mense ken

Pieter Cronje is hoofseun by Hoër Volkskool. Heraut het met hom gesels oor sy doelwitte vir die jaar en die merkwaardige jong man beter leer ken.

Wat is die eerste gedagte wat deur jou kop gegaan het toe jou naam uitgelees is?

Ek moes besin tussen ‘n oomblik van skok of verbasing. Toe my voorganger na my kyk vir die oorhandiging van die vaandel het die realiteit ingesink. Elkeen van ons gee altyd die ander kandidate ’n beter “kans” as jouself, maar tog het ons hemelse Vader my geseën met hierdie ongelooflikke taak en voorreg.

Is dit ’n doelwit wat jy vir jouself gestel het?

Toe ek as ’n graad agt “groentjie” die skool betree het, was die hoofleiers maar altyd net vir my ’n inspirasie. Hulle is deel van die vlagskip van ons skool en iemand om na op te kyk. My gedagtes het toe reeds begin maal oor hoe groot die voorreg sou wees om ook eendag hoofseun te kon wees, maar omdat ons so ’n sterk inname groep was het ek maar my bedenkinge oor daardie droom gehad.

Wat maak van mens ’n goeie leier en hoe gaan jy jou leierskap toepas?

Ek voel dat jy nie ’n leier vir ander kan wees as jy nie ’n volgeling van God is nie. Jy moet bewus wees van wat om jou aangaan en dan dink oor hoe jy moontlik die situasie kan adresseer en/of verander. Gebruik jou medemense se ondersteuning, want sonder hulle is dit baie moeilik om op jou eie te funksioneer. Dis ook baie belangrik om nederig te bly te alle tye en sodoende jou medemense se opinie te betrag en te respekteer.

Daar wag ’n jaar vol verantwoordelikhede op jou. Waarna sien jy die meeste uit?

Die nuwe graad agt leerders wat inkom is maar altyd ’n uitdaging. Hulle “bubbles” word gebars en hulle val weer terug aarde toe nadat hulle in graad sewe die hoë bome was. Volgens elke VR is hierdie nuwelinge ’n bietjie groot vir hul skoene en dit is ons taak om hulle op die regte manier met die skool te bind en te vereenselwig. Hulle moet voorberei word om ’n gesonde balans van betrokkenheid by Volkskool te handhaaf. Hierdie nuwelinge is die nuwe ambassadeurs en mondstuk van Volkies en daar moet net met trots van Volkskool gepraat word. Aan die einde van my kwartaal in 2021 sal ek graag wil hoor dat ek my taak en verantwoordelikhede met lof volbring het.

Watter uitdagings gaan jou ’n kopseer gee?

Op die oomlik is dit nog te vroeg om te sê. Elke uitdaging het maar sy probleme, dit hang net af hoe jy dit hanteer. Covid-19 inperkings gaan nog groot nagevolge hê in 2021 en veral op die sportveld het dit ’n geweldige impak. ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees en daarom is sport vir ons belangrik. Rugby is seker ons grootste “bemarker” op sportgebied en die inperking daarvan plaas geweldige dempers op ons samesyn.

Hopelik word die huidige inperkings opgehef en/of verlig sodat skole na volle kan funksioneer in 2021. Ek glo verder dat my grootste uitdaging sal wees om te alle tye ’n positiewe gesindheid onder ons leerders te bewerk en dus sal ek moet leiding gee deur die regte voorbeeld te stel.

Hoe sal jy graag onthou wil word wanneer jy aan die einde van die jaar wegstap?

Ek wil hê mense moet my onthou as iemand met ’n passie, iemand met karakter en iemand wat nie bang is vir ’n uitdaging nie. Maar die belangrikste is dat die mense opreg kan sien dat ek ’n kind van God is en dat my lewe om Hom draai. Deur te wandel in Sy lig sal Hy jou pad gelyk maak en jou laste minder maak.

Wat maak Hoër Volkskool spesiaal?

Volkskool is ’n skool wat saam staan, ongeag waar jy vandaan kom. Ons respekteer en ondersteun mekaar en fokus daarop om te groei. Ons Christelike waardes is ons anker en het ons nog net voorspoed gebring. Ons is dalk klein vergeleke met ander skole, maar ons het hart en niemand kan dit van ons ontneem nie.

Wie is jou rolmodel?

My pa. Hy is die een wat my nog altyd ondersteun in alles wat ek doen. Hy motiveer my om te volhard en is altyd daar vir my, ongeag goed of sleg.

Wat is jou gunsteling vak en hoekom?

Ek is die tipe mens wat daarvan hou om met my hande te werk. Om heeltyd in die klas te sit en skryf is nou nie een van my straaltjies nie en daarom is landbou vir my so lekker. Dit leer jou vaardighede aan en jy neem baie kennis in wat jy in die alledaagse lewe moet toepas.

Beskryf jouself in vyf woorde Nederig, ekstrovert, liefdevol, avontuurlustig, vriendelik en sportief

Hoe het jy die pandemie jaar ervaar?

Covid-19 was maar ’n uitdaging vir ons almal en die feit dat ons sport van ons ontneem was, was vir my baie swaar om te verwerk. Genadiglik was daar baie ander dinge wat ons gedurende die grendeltydperk kon leer. Ek het nuwe stokperdjies gevind en het ook die voorreg gehad om die tyd produktief saam met my ouers te spandeer. Die feit dat ek ingeperk was het my soms gevang omdat ek iemand is wat daarvan hou om buite te wees en dinge te doen. Ek het die tyd gebruik om betrokke te raak by ’n fietsry groep en ons het sodoende ook die “Riding for Jesus” fietsryklub begin. Dit het geweldig baie gehelp om my liggaam fiks en gesond te hou en ook om my gedagtes afleiding te bied. Deur al die sleg is daar goed en ons kan net dankbaar wees vir wat ons het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button