Die Wolkskool en Hoër Volkskool vat in 2021 hande om vir elke kind in Graad Agt en Nege toegang te gee tot Die Wolkskool. As gevolg van die Departement van Onderwys se besluit om die opening van skole met twee weke uit te stel, word hierdie besluit verwelkom.
Die Wolkskool is ’n inisiatief van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en bied ’n aanlyn leerplatform met lesse in video-formaat, werkkaarte en aflaaibare werkboeke wat leerders vanaf enige plek en teen hul eie pas aanvullend tot hul skoolonderrig kan deurwerk.
Inhoud is gebaseer op die Suid-Afrikaanse KABV-kurrikulum en daar is reeds meer as 3 000 volledige lesse
vervaardig in die volgende 22 vakke:
• Graad Agt tot Nege: Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, ekonomiese bestuurswetenskappe, natuurwetenskappe, rekenaarvaardighede (Graad Sewe), digitale tegnologie, sosiale wetenskappe, tegnologie en wiskunde.
• Graad 10 tot 12: Afrikaans huistaal, besigheidstudies, Engels eerste addisionele taal, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en ontwerp, inligtingstegnologie, lewenswetenskappe, rekeningkunde, rekenaartoepassingstegnologie, wiskunde en wiskundige geletterdheid.
Ouers ontvang elke twee weke ’n verslag wat leerders se vordering weergee en kan self ook na die video’s kyk om jou kind te kan bystaan met moeilike vrae.
“Ons is trots om in 2021 die toekoms van gehalte Afrikaanse onderrig te help verseker,” het Johan Botha, die hoof gesê.



