Local newsNews

John Vorster gereed vir die nuwe skooljaar

Sosiale distansiëring in klasse sal ten alle tye toegepas word.

Na ‘n buitengewone skooljaar in 2020 en met uitmuntende beplanning vir die komende skooljaar is die onderwysers van Hoërskool John Vorster gereed om die jaar aan te pak.

Die HERAUT het met die skoolhoof, Jan Nienaber, gaan praat oor die uitdagings wat voorlê vir 2021.

“Ons beplanning is tweeledig,” het Nienaber gesê.

“Ons het beplan asof ons terug kom na ‘n normale skooljaar, met die gedagte dat ons moontlik nog ‘n Covid-19 geval sal moet hanteer.”

Die leerders word vanaf 7vm in die oggende geskandeer en ontsmet, waarna die register geneem sal word.
Die leerders moet dus al om 7vm by die skool wees.

Sosiale distansiëring in klasse sal ten alle tye toegepas word.

Die klasgroepe is ook opgedeel volgens ’n rooster, wat die hoeveelheid leerders per klas minder sal maak.
Groot lokale soos die skoolsaal sal egter ook benut word as klaskamers.

“Ons wil nie die plek wees waar die virus versprei nie, die skoolgebou word daagliks ontsmet en skoongemaak.
“Die leerders se hande word elke periode ontsmet en tafel oppervlaktes word gereinig,” het Nienaber bygevoeg.

Handboeke is reeds ‘n week voor die skool begin het in pakkies aan die leerders uitgedeel om te verseker dat elke leerder toegang tot die leerstof het.

Platforms soos WhatsApp, YouTube en Google Classroom word ook benut deur die skool vir onderrigdoeleindes.
Indien ‘n leerder nie toegang het tot die internet of tegnologiese toestelle vir onderrig het nie, kan die leerders die week se akademiese werk self by die skool gaan afhaal.

Leerders kan dan hul voltooide werk in die skool se posbus genaamd, die ‘Vossie Rockit’ gooi, waarna dit aan die verskeie onderwysers gegee sal word.

“Die skool is slaggereed vir die skooljaar en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan.

“Ons moet geloof hou. Ons moet weet dat as ons, ons probleem vir ons Skepper gee, dat Hy vir ons met elke probleem ‘n oplossing sal gee,” het Nienaber afgesluit.

“Ons moet ook vra dat Hy ons sal veilig hou, dat ons die skooljaar met sukses kan aflê.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button