Local newsNews

Egpaar vier 68 geseënde jare

“Die Here was vir ons goed,” het Lena Brits aan die HERAUT gesê.

HEIDELBERG – ’n Egpaar van die dorp, Koos (91) en Lena Brits (88), vier Sondag hul 68ste huweliksherdenking.

Die Brits-egpaar woon al vir vyf jaar in die Suikerbosrand Aftreeoord en is ook die egpaar wat die langste getroud is in die oord.

Koos het in Nigel groot geword, terwyl Lena vanaf die ouderdom van 11 in Heidelberg gewoon het.
Destyds, toe Lena nog op skool was, het die paar mekaar ontmoet by ’n verjaarsdagpartytjie vir haar ma.

Hierna het hulle mekaar vir vyf jaar geken, waarvan hulle vir twee jaar gekys was voor hulle besluit het om die knoop deur te haak.

“Dit was ’n regte, ordentlike familie troue,” het Koos vertel. “Die hele familie was daar.”

So het die egpaar op 28 Maart in 1953 in Nigel getrou, met Lena se oom, pastoor Van der Westhuizen, wat hul in die huwelik bevestig het.

“Ek het nog my trourok by my niggie, wat kort voor ons getroud is, geleen,” het Lena verduidelik. “Dit het die dag nog meer spesiaal gemaak.”

Koos en Lena is beide van mening dat die geheim tot ’n suksesvolle huwelik ’n kombinasie van vasbyt en genade is.

“Daar is in enige huwelik moeilike tye wat mens moet deurwerk,” meen Lena. “Mens moet net vasbyt en saam staan.”

Vanuit hul huwelik het Koos en Lena vier kinders, 12 kleinkinders en 19 agterkleinkinders. Hul oudste agterkleinkind is tans in matriek.

“Ons het baie om voor dankie te sê,” het Lena bygevoeg. “Ons is nog gesond en besig, en is baie geseënd in ons huwelik.”

Die egpaar meen dat hulle ’n vol lewe saam beleef het.

In 1990 het die paar na Jeffreys Baai verhuis, waar albei in 1994 besluit het om af te tree.

“Ons het daar gewoon tot in 2006 toe ons besluit het om terug te trek na Heidelberg toe,” het Lena bygevoeg. “Die afstand tussen ons en die familie het net te groot geword.”

Die paar hou hulself nog fiks en gesond met rolbal wanneer die weer dit toelaat.

Koos ry nog elke dag 5km op sy fiets. Hy het ook twee maal, op die ouderdomme van 74 en 75, aan die Cape Argus-fietswedren deelgeneem, waarna hy ook een maal aan die 94.7-wedren in Johannesburg deelgeneem het.

“Ons raad vir die jongmense van vandag is om aan julle huwelike te werk,” het Koos namens die egpaar afgesluit. “Verdra mekaar en wees lief vir mekaar.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button