Oud-studente hou reünie
Die studente van die destydse Heidelberg Onderwys Kollege het Woensdag 'n reünie gehou.
Oud-studente van die destydse Heidelbergse Onderwyskollege (HOK) het op 23 Februarie ’n reünie by die Heidelberg Heritage Museum gehou.
Die kollege, wat in 1907 gestig is, het in 1967 gesluit.

Talle van die oud-studente wat die reünie bygewoon het, was gelukkig klaar gestudeer ten tyde van die kollege se sluiting, maar baie was net eerste- of tweedejaar en moes hul studies by ander kolleges gaan voortsit.
Die destydse kampus is vandag die Suid-Afrikaanse Leërgymnasium in Heidelberg.

“Ds AJ Louw van die Klipkerk het destyds die behoefte van onderwysers raakgesien,” het Pieter Roodt, wat gehelp het met die reëlings vir die reünie, gesê.
“Die eerste rektor van die kollege was die skoolhoof van Volkskool, Theo Dönges.

“Daar was toe net 64 studente en sowat vyf dosente.”
Ten tyde van HOK se sluiting in 1967 het die kollege oor ’n duisend studente gehad met sowat 70 dosente.
“Dit was vreeslik harsteer toe HOK moes sluit,” het Roodt gesê.

“Heidelberg se ekonomie het ’n knou gekry omdat soveel studente, dosente en hul gades uit die dorp uit weg is.”
Retha Harmse het gesê: “Dit is vir my so wonderlik om soveel mense hier te sien vandag.

“Ons is bevoorreg om deel van HOK te kon wees.”
Diegene wat die reünie bygewoon het, het ou kampus- en studenteliedere saamgesing en saam stories oor hul studentedae onthou.
Oud-studente wat in Brakpan en Springs woon, het ook die dag saam geniet.




