Local news

Goue Akker open sy deure

Daar word gefokus op aktiwiteite wat pasiënte in hul gesonde jare geniet het.

Van silwer jare tot goue jare, by die Suikerbos Aftreeoord word daar geglo dat elke bejaarde met waardigheid moet oudword.

Dit was die boodskap op 1 Junie toe die oord se demensie eenheid, Goue Akker amptelik sy deure geopen het.

Die bestuurder Jannie Kotze het tydens die opening genoem dat die oord vir al die fases van senior burgers se aftreejare wil sorg en dat die demensie eenheid reeds voor Covid ‘n doelwit was. Hulle is ook besig om ‘n palliatiewe eenheid te skep.

“Ons wil holistiese ondersteuning, verblyf en versorging vir bejaardes verskaf en seker maak hulle word oud met waardigheid,” het Kotze gesê.

Hy het bygevoeg die oord het ‘n deernisvolle en bemagtigende benadering wat die waarde erken van onafhanklikheid en lewenskwaliteit deur alle fases van veroudering.

Carol Wortman staan by haar ma Wilma Wortman, wat agt jaar gelede met demensie gediagnoseer is en een van die eerste inwoners sal wees by die Goue Akker demensie eenheid.

“Met ouderdom, kom vergeetagtigheid. Almal vergeet soms waar ‘n sleutel gelos was, of wat die volgende taak was om te doen of wat uit die yskas gehaal moes word en dit word as ‘n tipiese teken van oudword aanvaar. Met demensie is dit heelwat anders en meer ernstig, met ‘n groter impak op die persoon en familie se lewe.” het Piet du Toit vertel wat sy vrou aan demensie verloor het.

Hulle was 58 jaar getroud en vir die laaste ses maande voor haar dood, kon sy hom nie erken of selfs sy naam onthou nie.

“Demensie pasiënte weet wat hulle wil sê, maar die brein kan dit nie uitstuur nie en dan raak hul soms aggressief uit pure frustrasie,” het du Toit vanuit sy oogpunt verduidelik.

Goue Akker is ‘n aparte sorgeenheid. Die demensie pasiënte sal nie tussen ander inwoners wees nie; juis omdat hulle spesifieke sorg nodig het.

Die personeel wat na die Goue Akker eenheid sal skuif, is intens opgelei deur die Association for Dementia and Alzheimer’s of South Africa (ADASA).

“Versorgingsplanne by Goue Akker word per persoon uitgewerk aangesien elkeen se behoeftes uniek is,” het Marlene Walkden, maatskaplike werker verduidelik.

Demensie pasiënte kan kleur herken en die helder kleure wat by elke bed aangebring is, maak dit makliker vir elkeen om sy bed te vind.

“Huislike omstandighede is vir demensie pasiënte baie belangrik en dit is wat ons by die Goue Akker geskep het,” het die matrone, Wilma Wehmeyer op haar beurt gesê.

“Daar word gefokus op aktiwiteite wat pasiënte in hul gesonde jare geniet het. As hulle van lees gehou het, word daar vir hul stories gelees.

“Die wat van naaldwerk gehou het, kry ‘n ‘vroetel-lappie’ om mee te speel aangesien hulle nie meer self naaldwerk kan doen nie.

“Dan is daar ook balspel en ander aktiwiteite wat sensoriese vaardighede stimuleer,” het matrone Wehmeyer bygevoeg.

“Demensie veroorsaak dat die brein krimp as gevolg van selle wat doodgaan, en persone wat daardeur geraak word, beweeg terug in tyd. Soms is hulle oppad werk toe en voer gesprekke met betrekking tot hul werk. Ander begin soek na babas want in hulle gedagtes is hul kinders babas en daarom kan hulle nie hul volwasse kinders plaas nie.

Die Goue Akker demensie eenheid het ‘n huislike gevoel om dit so gerieflik as moontlik te maak vir die inwoners.

“Soos wat die siekte vorder, vergeet hulle dat hul getroud was en glo sommige dat hulle tieners is,
“Elke persoon se pad lyk anders en uniek,” het Walkden vertel voordat gaste en inwoners van Suikerbos Aftreeoord genooi is om na die Goue Akker eenheid oorkant die pad te stap.

Wilma Wortman (82) wat tans ‘n inwoner by die oord is en agt jaar gelede met demensie gediagnoseer is, het saam met du Toit die rooi lint geknip en die eenheid amptelik oop verklaar.

Wilma sal een van die eerste inwoners van die Goue Akker wees.

“Omdat demensie pasiënte nog kleur kan uitken, is daar ‘n huislike omgewing geskep met helder kleure bokant elke bed, in die sitkamer en kombuis. Die tuin is ook so uitgelê dat dit tot voordeel van die demensie pasiënte sal strek,” het Walkden verduidelik.

“Ons is trots op wat ons kon vermag en is dankbaar vir die ondersteuning van inwoners en die gemeenskap,” het Kotze gesê en afgesluit dat dié wat hul lewe eendag met demensie moet afsluit, hul laaste jare met waardigheid by die Goue Akker kan deurbring.

Wilma Wehmeyer (matrone), Jannie Kotzer (bestuurder) en Marlene Walkden (maatskaplike werker) het hul kennis van demensie gedeel en vertel hoe die Goue Akker demensie eenheid ingerig is vir elkeen se unieke behoeftes.

Related Articles

Back to top button