Internasionale erkenning vir kletsrymvervaardiger
Die album gaan op 3 Augustus bekendgestel word.
Tristan Neveling (15) van Heidelberg het pas internasionale sukses behaal toe hy deur ‘n platemaatskappy in New York, VSA, onderteken is.
Tristan, wat in November 16 word, staan in die musiekwêreld bekend as Appel Sap en is nou deel van die 1509 Heat Recordz-etiket. Sy debuutalbum sal op 3 Augustus vrygestel word.
Volgens die platemaatskappy is Tristan ‘n opwindende vervaardiger wat nie bang is om kreatiewe grense te oorskry nie. Hulle sê hulle is baie opgewonde om Appel Sap by hul stal te verwelkom.
Verskeie internasionale kletsrymers het reeds van Appel Sap se snitte in hul eie musiek gebruik, wat wys hoe sy werk wêreldwyd aanklank vind.

Hoewel Tristan nog net in Graad 10 aan Hoër Volkskool is, het hy reeds ‘n groot impak gemaak. Buiten sy musiektalent is hy ook ‘n talentvolle krieketspeler.
Sy vermoë om verskillende belangstellings te balanseer en sy talente op verskeie gebiede te ontwikkel, maak hom ‘n inspirasie vir ander jongmense.
Die musiekwêreld gaan beslis nog baie van Tristan en sy unieke styl hoor.



