KYK: Toegewyde werknemer vereer ná 40 jaar by Nigel Tuiste vir Bejaardes
Ná 40 jaar by die Nigel Tuiste vir Bejaardes sê Hannie Bosman sy is nog nie gereed om af te tree nie en wil sy steeds ’n verskil maak.
Ná 40 jaar se toegewyde diens by die Nigel Tuiste vir Bejaardes is Hannie Bosman (73) onlangs tydens ’n spesiale byeenkoms deur personeel en inwoners vereer.
“Dankie vir u jare se onbaatsugtige liefde, omgee en harde werk. U is ’n absolute sieraad vir ons tuiste en ons waardeer alles wat u doen ongelooflik baie. Mag die Here u ryklik seën,” het Johan Janse van Rensburg van die tuiste tydens die geleentheid gesê.
Bosman se bydrae tot die tuiste is só betekenisvol dat een van die nuwer woonstelblokke wat gedurende haar dienstyd gebou is, die Hannie Hof, na haar vernoem is.
Hoewel haar amptelike pos administratief van aard is en sy verantwoordelik is vir aankope by die tuiste, beskryf kollegas haar as iemand wat altyd bereid is om hand by te sit waar hulp nodig is.
Hoewel sy nie tersiêre opleiding ontvang het nie, het sy deur harde werk en dekades se ondervinding kennis en vaardighede opgebou wat haar ewe gekwalifiseerd maak as baie mense met formele kwalifikasies.
“Nie een dag is dieselfde nie. Dit is lekker om met die bejaardes te werk. Daar is baie hartseer, maar ook blydskap,” vertel sy.
Van die hartseerste oomblikke is wanneer een van die inwoners afsterf.
“Dit vat aan ’n mens. Jy is in ’n mate dankbaar vir hulle, maar ook hartseer vir die families,” sê sy.
Hoogtepunte is wanneer iemand besoek aflê om die inwoners se dag op te helder, soos toe Solidariteit Helpende Hand onlangs ’n draai gemaak het.
Volgens Hannie is daar baie herinneringe wat haar deur haar 40 jaar by die tuiste sal bybly, soos die vyf bestuurders met wie sy oor die jare gewerk het.
“Elkeen was lekker om mee saam te werk, so ook die skoonmakers en kombuispersoneel,” sê sy.
Aan aftrede dink Hannie glad nie op hierdie stadium nie.
“Dis alles in die Here se hande. Ek voel ek kan nog ’n bydrae maak, en die Here sal my sê wanneer ek moet gaan. Ek kan nog alles doen wat ek al die jare gedoen het,” sê sy.
Sy het ook nie ’n gunstelingkollega of inwoner nie en sê dat dit haar baie sal pla as sy enigeen bo die ander moet uitsonder.
“Jy het maar verskillende gevoelens vir elke inwoner. Jy kry moeilikes, maar vir hulle is jy ook lief. Ons het oulike inwoners en goeie personeel,” sê sy.
Haar boodskap aan jongmense wat haar beroep wil betree, is dat hulle goed moet kan kommunikeer.
“’n Mens moet simpatie en empatie hê. As die kommunikasie nie reg is nie, sal dinge nooit glad verloop nie.”
Sy voel konflikhantering is ’n belangrike vaardigheid om te hê.
As sy iets sou wou agterlaat wanneer sy uiteindelik aftree, is dit dat haar plaasvervanger seepglad kan oorneem en voortgaan soos sy dit gedoen het.
“Die plek lê my baie na aan die hart, en ek sal wil hê dat dit net nog beter moet gaan,” het sy gesê.
Sy voel ook dat sy nie al die krediet vir die tuiste se sukses kan neem nie en dat haar kollegas ewe veel erkenning verdien, aangesien hulle as ’n span saamwerk.
“Ek sê altyd as ek eendag finaal hier wegstap, sal ek nooit die plek vergeet nie. Ek sal altyd terugkom en help, al sit ’n mens net en lees vir die inwoners.”



