Orkes van die Heidelbergse Onderwyskollege het die instansie goed verteenwoordig
Orkeslede van die Heidelbergse Onderwyskollege het na hul studentejare baie ver paaie geloop in die musiekbedryf.
Soos oud-studente van die Heidelbergse Onderwyskollege (HOK) terugkyk op gebeure en tradisies in die aanloop tot hul 60-jaar-reünie in 2027, bly die orkeste wat deur die jare musiek gemaak het, ’n hoogtepunt.
Die Heidelbergse Onderwyskollege (HOK) het orkeste gehad waarop die instelling baie trots kon wees, met optredes by funksies en toere na omliggende dorpe om studente te werf.

Die orkeste het dirigente tydens atletiekbyeenkomste bygestaan om studente begeesterd te hou, en sommige lede het later groot loopbane in die musiekbedryf gehad.

Onder hulle was Johann (Killer) Coetzer, Dirk Stassen en Anton Goosen.

Herinneringe aan die orkeste is saamgestel met die hulp van die 1966-orkeslede Anton Goosen en Neels Kruger, asook Hannie Nortjé.

“Die kerke van verskillende dorpe het ons aanbiedings geadverteer en sodoende het elke student slaapplek ná optredes gekry, sowel as kospakkies vir die volgende dag,” vertel die drie.
“Ons hoofdoel was om die kollege te adverteer, omdat ons getalle in latere jare al hoe minder geword het. Eddie Eksteen het uitstekend klavier gespeel, daar was sangitems en ’n paar opvoerings, en dr. Barry het inligting oor die studentelewe gedeel.”

Daar was ’n sanggroep, verskeie ateljee-opnames en in die laaste jare van HOK se bestaan selfs ’n sestet wat baie gewild was.
Vier langspeelplate is te sien in die museum by Laer Volkskool Heidelberg, waar ’n uitstalling oor die HOK op die been gebring word.

Eerstejaars is tydens eerstejaarskonserte deur die orkes gewerf, en so is baie talent raakgesien en verder ontwikkel.

In ’n koerantuitknipsel uit daardie tyd staan daar: “Die orkes het vanjaar op ’n hoë noot begin. Heelwat nuwe talent het bygekom en bygedra tot die ontstaan van drie orkeste, naamlik ’n boere-orkes, jazz-orkes en ’n moderne ritmiese orkes.

“Die jazz-orkes het agtergrondmusiek vir baie kollegedanse verskaf. Die lede van die orkes het selfs so ver as Ermelo en Springs gegaan om by danse en ander vermaaklikhede op te tree.

“Die jazz-orkes het beslis bygedra tot reklame vir die jool deur ’n uitvoering te lewer wat deur African Mirror verfilm is.”



