Sport

Heidelberg kuier 11 keer agter die doellyn teen Kempton

Heidelberg Rugbyklub het Saterdag hul krag en doelgerigtheid ten toon gestel toe hulle die Kempton Wolwe met 71-14 afgeransel het. Met die halfeindstryd wat nader kruip, raak elke wedstryd ’n moet-wen, en Berge stel nie teleur nie.

Heidelberg Rugbyklub het Saterdag hul aanslag in die Valke Merlin Liga voortgesit met ’n oortuigende vertoning teen die Kempton Wolwe.

Die wedstryd is op die Barnard Stadion in Kempton Park gespeel, waar Berge met mening losgetrek en ’n indrukwekkende oorwinning van 71-14 behaal het.

Dit was uiters belangrik vir Heidelberg om die wedstryd met ’n oorwinning af te sluit.

Berge wil ten alle koste hul tweede plek op die Merlin Liga-punteleer behou om te verseker dat hulle aan die halfeindstryde ná afloop van die liga kan deelneem.

Meyerton Knights is tans eerste op die punteleer, met Heidelberg in die tweede plek en East Rand United kort op hul hakke.

Heidelberg bemeester die bal in ‘n lynstaan.

Heidelberg het van meet af die pap dik aangemaak deur Kempton geen enige gunste te bewys nie en het punte op punte aangeteken.

Kempton, op hul beurt, het nie juis veel weerstand gebied nie.

Heidelberg het 11 drieë in die wedstryd gedruk.

Die samespel en algemene spel was ’n groot verbetering teenoor die vorige naweek, toe hulle nie teen VUT op dreef kon kom nie.

Die 14 punte wat Kempton aangeteken het, was die gevolg van foute wat Heidelberg op die veld begaan het.

Berge se punte was aangeteken deur:

Drieë: JJ Mienie (2), Gerhard Breedt (2), Francois Vorster (2), Jannie Hough (2), Morne Vermeulen, Brennan Ryan asook Damien Grace.

Heidelberg se eerste span is op die aanval.

Doelskoppe: Francois Vorster (4), JJ Mienie (3) en Jeandre Goosen (1).

Die tweede spanne was nie in aksie nie. Kempton Wolwe het nie ‘n tweede span beskikbaar gehad nie.

Dit het verseker dat Heidelberg se tweede span volle ligapunte vir die wedstryd gekry het.

Heidelberg se volgende wedstryd op 9 Augustus is van uiterste belang, waar hulle op ERU se veld teen ERU te staan kom.

Die twee spanne stry om die tweede plek op die Merlin Liga-punteleer, wat hulle in staat sal stel om in die halfeindstryd van die liga uit te speel.

Die laaste twee wedstryde sal teen Sasol Kobras en Meyerton Knights wees, en albei sal tuis gespeel word.

Heidelberg se skrumskakel maak reg om die bal uitte gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button