Sport

Heidelberg Rugbyklub verhang bordjies teen ERU met noue oorwinning

Die volgende wedstryd gaan deurslaggewend wees vir Berge.

Die Heidelberg Rugbyklub het Saterdag die bordjies verhang teen East Rand United (ERU) in die Valke Merlin Liga.

Die Berge het net-net deurgeskuur met ‘n eindtelling van 34-31.

Die vorige keer toe die twee spanne teen mekaar gespeel het, was die telling 34-29 in ERU se guns.

Die wedstryd is in die ‘begrafplaas’ gespeel, wat ERU se tuisveld genoem word. Dit is in die algemeen ‘n plek waar weinige spanne met ‘n wen kan wegstap.

Heidelberg het soos ‘n tornado begin en teen halftyd was hulle alreeds 31-10 voor.

Heidelberg en ERU sak in ‘n skrum tydens die wedstryd.

Al die speelwerk in die eerste helfte het van Heidelberg se kant gekom. Dit was ‘n ander saak in die tweede helfte.
ERU het die swaargewigte opgebring, wat beslis ‘n verskil gemaak het.

Wat sake vir ERU vergemaklik het, was die feit dat Berge vir 10 minute met 14 man moes klaarkom weens ‘n geelkaart wat aan ’n Heidelberg-speler uitgedeel is.

In ‘n oogwink het die 31-10 verander in 31 elk.

Heidelberg moes alles insit om nie verdere punte af te staan nie.

‘n Speler van Heidelberg, tweede rang, hoog in ‘n lijn staan.

Met die tyd feitlik verstreke het die skeidsregter sy fluitjie geblaas en ‘n strafskop aan Heidelberg toegeken.

Die Berge se betroubare skopper, Francois Vorster, het die bal doelgerig geplaas en met ‘n koelkop-beheer aangelê pale toe.

Die bal het suiwer deur die pale gevlieg en dit het die wen aan Heidelberg verseker.

Heidelberg se punte was aangeteken deur: drieë: JJ Mienie, Gerhard Breedt, Morne Vermeulen en Francois Vorster, doelskoppe: Francois Vorster (4) en strafdoele: Francois Vorster (2).

Berge se tweede span het 28-17 vasgeval teen ERU se tweedes.

Heidelberg en ERU veg vir die bal.

In hul vorige wedstryd was dit so te sê omgedraai toe Berge 29-10 gewen het.

Op ‘n stadium was Heidelberg gerieflik 10-0 en later 17-14 voor, maar kon nie die pas tot die einde uithou nie.

Heidelberg se punte was aangeteken deur Leon Luus en JJ Hattingh, wat elkeen ‘n drie gedruk het, terwyl Adriaan Cilliers ‘n strafdoel en doelskop oorgeskop het en Sydney van Huysteen ‘n doelskop.

Tans lê die Heidelberg eerste span tweede op die Valke Merlin-punteleer en die tweede span derde in hulle afdeling.

Die volgende wedstryd gaan deurslaggewend wees vir Berge. Hulle speel op 16 Augustus tuis teen die Sasol Kobras.

Heidelberg se eerste span maak nou gereed vir die Sasol Kobras.

Die Kobras is besig om ‘n opwaardse kurwe te wys en dit gaan beslis ‘n moeilike middag wees vir enige span om te wen.

Dit is uiters belangrik vir Heidelberg om met ‘n wen weg te stap om sodoende die tweede plek op die punteleer sonder twyfel vir hulleself te verseker.

Die tweede span skop om 14:40 af en die eerste span wedstryd is om 16:00.

Die wedstryde is op die Hoër Volkskool se veld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button