Local sport

Heidelberg boksgeleentheid kombineer sport en liefdadigheid

Wie sal die oorhand in die kryt hê? Heidelberg se raadslede en politieke uitdagers ruil woorde vir bokshandskoene in ’n unieke fondsinsamelingsinisiatief.

Die Patriotic Alliance (PA) se Sedibeng-streek gaan op 10 Augustus ‘n unieke liefdadigheidsboksgeleentheid, Fighting for Hope, in Heidelberg aanbied waar sport, gemeenskapsontwikkeling en die politieke arena saamkom.

Die geleentheid vind van 09:00 tot 15:30 in Jacobstraat, tussen Uckermann- en Voortrekkerstraat, plaas.
Jacobstraat sal vir die dag vir verkeer gesluit wees.

Volgens die organiseerders is die konsep geïnspireer deur die gewilde Dwergie-fees wat in die 1990’s Heidelbergers ook aan wyle Jan Wilkens se talente in Jacobstraat voorgestel het.

Hulle hoop om dieselfde gemeenskapsgees te laat herleef deur inwoners op die openbare vakansiedag saam te bring.

Die dag sal boksers van Lucky D Boxing en boksers uit die Sedibeng-streek in aksie wees.

Die hoogtepunt sal die simboliese gevegte tussen huidige wyksraadslede of proporsionele raadslede en nuwe PA-uitdagers wees.

Volgens die PA sal daar 13 gevegte wees, een vir elk van die wyke, met slegs een rondte van drie minute elk. In die hoofgeveg sal die PA Burgermeesterskandidaat teen huidige burgermeester deur die toue klim.

Die wenner van elke geveg sal R2 000 vir ‘n liefdadigheidsorganisasie of nie-winsgewende organisasie van sy of haar keuse ontvang.

Die prysgeld is deur borge uit die onderskeie wyke beskikbaar gestel.

Die organiseerders sê die doel is nie net om fondse vir liefdadigheid in te samel nie, maar ook om inwoners die geleentheid te gee om hul raadslede en politieke kandidate op ‘n ander manier te leer ken en te sien “wie werklik vir die gemeenskap sal veg”.

Die voormalige Suid-Afrikaanse swaargewigbokskampioen Pierre Coetzer sal as gasbeoordelaar optree en die wenners van die onderskeie wyksgevegte aankondig.

Plaaslike ondernemings en die publiek word aangemoedig en uitgenooi om die inisiatief te ondersteun.

Die PA sê die inisiatief is daarop gemik om sport as instrument te gebruik om gemeenskappe te verenig, hoop te skep en by te dra tot ‘n beter Sedibeng en Heidelberg omgewing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Supplied content

This content originated outside of Caxton Local Media, but we thought that you might find it interesting.

Related Articles

Back to top button