Kersliggies bring vreugde en opwinding
NIGEL – Die Nigel Metodiste Kerk het die fees seisoen behoorlik ingewei op 18 November met die aanskakeling van hul kersfeesliggies.
Dit is die eerste keer dat die kerkgebou verfraai word met kersliggies en ook die eerste van sy soort in Nigel.
“Die pandemie het die afgelope jaar so ’n negatiewe effek op almal gehad. Tydens ’n kerkraadvergadering het ons besluit om die opwinding van Kersfees en die feestelike tyding aan te kondig met kersliggies gevolg deur ’n nagmark later in November,” het Toeki Tieghi vertel.
Die kerk, wat ook die oudste kerk in Nigel is, het gesorg vir vele opwinding onder die kinders toe die brandweertrok met sirenes die amptelike aanskakeling van die liggies aangekondig het.
Die liggies sal elke aand vanaf ongeveer 6.30nm aangeskakel word sodat almal die maksimum plesier daaruit kan geniet (natuurlik afhangende van die weer – reën beteken geen liggies).
Die aanskakel van die liggies word opgevolg deur ’n Kersfees Nagmark wat op 27 November vanaf 4nm sal plaasvind en Kersliedere by kerslig op 11 Desember vanaf 6nm. Daarna sal op 4 en 5 Desember en 11 en 12 Desember kos te koop wees.
“Niemand hoef hulle daardie dae voor die stoof af te sloof nie. Ons nooi graag die gemeenskap uit om die liggies te kom sien. Dit is werklik iets besonders,” het Toekie gesê.
Stalletjies is beskikbaar en vir meer inligting kan Toekie by 082 419 7961 geskakel wor of per e-pos na Toekie.Tieghi@gmail.com of karenvniekerk2@gmail.com






