Fighting for Hope help plaaslike organisasies
Die Patriotic Alliance (PA) se Sedibeng-streek het onlangs ’n unieke liefdadigheidsboksgeleentheid, Fighting for Hope, in Heidelberg aangebied.
Boksers van Lucky D Boxing en ander boksers uit die Sedibeng-streek het tydens die geleentheid die kryt betree. Alhoewel die weer nie heeltemal saamgespeel het nie, was die dag steeds ’n sukses.
Die hoogtepunt van die dag was die simboliese gevegte tussen huidige wyksraadslede of proporsionele raadslede en nuwe PA-uitdagers.

Die voormalige Suid-Afrikaanse swaargewigbokskampioen, Pierre Coetzer, het as gasbeoordelaar opgetree.
Danksy die ondersteuning van borge sal 14 welsyns- en gemeenskapsorganisasies in Heidelberg en die Sedibeng-omgewing nou elk R2 000 ontvang.

Foto: Verskaf
Die prysgeld is deur borge uit die onderskeie wyke beskikbaar gestel.
Die Lesedi Amateur Boxing Association was die eerste ontvanger van R2 000. Daar was ook vreugde en dankbaarheid toe Fountain Five Primary School in Ratanda ’n tjek van R2 000 ontvang het.

Verskeie ander organisasies sal na verwagting oor die volgende paar weke elk ’n bedrag van R2 000 ontvang.
“Die inisiatief het nie net sport en gemeenskapsbetrokkenheid bymekaargebring nie, maar ook ’n tasbare bydrae tot plaaslike welsyn gelewer,” het een van die organiseerders gesê.



