GalleriesSchools galleries

Ligbron bo in Beeld-kwarteind

Die laaste 10 minute van die wedstryd het gesorg vir naels-kou-oomblikke vir die Ligbron-ondersteuners, maar die verbete aanslag van Ben Vorster is met skitterende verdediging afgeweer.

Galery: Sien foto’s van altwee wedstryde.

Ligbron Akademie vir Tegnologie se John Wright Veneers eerste rugbyspan het Saterdag vir ‘n groot opskudding in vanjaar se Beeldtrofee-reeks gesorg toe hulle in ‘n kwarteindwedstryd die hoogaangeskrewe en een van die gunstelinge, Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen, in ‘n opwindende wedstryd met 25 – 13 uitgeskakel het.
Die wedstryd is op Ligbron se tuisveld gespeel.

Hoërskool Ben Vorster spog vanjaar met 12 provinsiale spelers, van wie agt in die Limpopo Blou Bulle Cravenweekspan is. Die span se kaptein is ook vanjaar se Cravenweek-kaptein.

Die besoekers het hulle vasgeloop teen ‘n begeesterde Liggie-span wat nie ‘n tree teruggestaan het nie en met rotsvaste verdediging, berekende breekslae en dryfkrag in die skrums rugby uit die boonste rake opgedis het.
Ligbron het die eerste drie aangeteken ná talle goeie laagvatte.

Eddie Dludlu het ‘n bal wat Ben Vorster vorentoe verloor het, opgeraap en Dali Dlamini oorgestuur om te gaan druk.

Teen rustyd was Ligbron met 8 – 3 voor en die geesdriftige Liggieonder-steuners het
skaars hulle sit-plekke ná die pouse ingeneem toe Thabiso Mkhwebane ná twee minute deurgehardloop het en onder die pale gaan druk het om die telling op 18-3 te staan te bring.

Ben Vorster het toe ‘n groot terugvegpoging geloods en binne vier minute twee keer agter die Liggies se doellyn gaan kuier.

Sizwe Maseko het egter die wedstryd vir die Liggies beklink toe hy met 10 minute se speeltyd oor, hom losgeruk het uit die hande van die verdedigende vleuel en ‘n pragdrie gedruk om die telling op 25-13 te staan te bring.
Die laaste 10 minute van die wedstryd het gesorg vir naels-kou-oomblikke vir die Ligbron-ondersteuners, maar die verbete aanslag van Ben Vorster is met skitterende verdediging afgeweer.

Die eindfluitjie is met luide toejuiging en spronge van vreugde deur spelers, afrigters en ouers in die Ligbronkamp begroet.

Daar lê egter ‘n groot taak vir die Blou Masjien voor wanneer die span die verdedigende kampioen en ook gunsteling om met die louere in vanjaar se Beeldtrofee-reeks weg te stap, Hoërskool Helpmekaar, Saterdag in ‘n halfeindwedstryd aanvat. Die wedstryd word om 10:20 op Ligbron se tuisveld gespeel.

In die voorwedstryd het Ligbron se 0/16A-span baie goed teen Hoërskool Ben Vorster afgeskop en die eerste helfte oorheers, maar kon aanvanklik nie punte aanteken nie.  Ben Vorster het egter een kans benut en ‘n doel aangeteken.
Ligbron het voortgeveg, maar in die proses te veel strafskoppeafgestaan waarvan twee deur die besoekers in punte omgeskep is.

Nathan Vienings het na vele pogings oor die doellyn geduik en met ‘n onsuksesvolle doelskop was die rustyd telling 13-5 in Ben Vorster se guns.

In die tweede helfte is die Liggie-span versterk deur impakspelers wat onmiddellik die 10 Grant Khomo-spelers van Ben Vorster onder druk geplaas het.

Die Liggies het met volgehoue druk een aanval na die ander geloods en uiteidelik het die Liggies se enigste Grant Khomo-speler, Sthembiso Msibi, vir ‘n drie gesorg.
Ligbron het die tempo hierna verder verhoog en ‘n skitterende agterlynbeweging is deur Colin Scheepers afgerond met ‘n drie onder die pale.  Altwee drieë is deur Luigi Cirigliano verdoel.

Ligbron het uiteindelik die uiters spannende wedstryd met 19 -16 gewen.
Die sege beteken dat hulle Saterdag teen Hoërskool Oos-Moot van Pretoria in ‘n halfeindwedstryd in die Beeldtrofeereeks te staan sal kom. Die wedstryd word om 09:00 op Ligbron se tuisveld gespeel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button