Ermeloër eindig onder Top 15in Sea to Sky-wedren in Turkye
Die 16-jarige Paulus van Niekerk van Ermelo het tussen meer as 400 ryers aan die uitdagende Sea to Sky-wedren in Turkye deelgeneem en die 15de plek in die Silwer-klas behaal.
ERMELO – Die 16-jarige Paulus van Niekerk van Hoërskool Ermelo het sy staal gewys by die internasionale Sea to Sky-hard-enduro-wedren in Kemer, Turkye, waar hy tussen meer as 400 deelnemers die 15de plek in die Silwer-klas en 45ste plek algeheel behaal het.
Vir Paulus, ‘n gr. 10-leerling, was dit sy eerste internasionale wedren en ‘n geleentheid om homself teen van die sport se mees ervare ryers te meet.
Die Sea to Sky-wedren, wat in die Kemer-streek van Antalya plaasvind, neem deelnemers van die strand naby die Middellandse See tot hoog in die berge. Ryers moet uiteenlopende terrein aandurf, waaronder sand, woude, klippe en steil bergpaadjies.
Paulus se liefde vir motorfietsry het op ‘n jong ouderdom begin. Sy pa, Paul, het hom aan die sport bekendgestel en hy was sowat drie jaar oud toe hy die eerste keer op ‘n motorfiets geklim het. Hy neem sedert hy agt jaar oud was aan enduro-wedrenne deel.
“Die meer tegniese ry was vir my lekkerder as die spoed,” het Paulus oor sy belangstelling in hard-enduro gesê.
Dit is juis die uitdagings, verskillende roetes en plekke wat hy tydens wedrenne besoek wat hom steeds motiveer.

Paulus se deelname aan die Sea to Sky-wedren het ná ‘n voorstel van sy pa gevolg. Hulle het lank vooruit vir die internasionale uitdaging beplan.
Hy het erken dat hy senuweeagtig was voordat die wedren begin het. Die eerste dag se prestasie was belangrik om ‘n beter wegspringposisie vir die daaropvolgende roetes te verseker.
Hy het aanvanklik in die 324ste posisie weggespring, maar die strandwedren in die 63ste posisie voltooi. Dit het hom ‘n beter wegspringposisie vir die woudroete besorg.
“Die stresvlakke was maar hoog, die strand was nogals anders met die sand, maar die woud en berg was waaraan ons gewoond is,” het hy vertel.
Die motorfiets wat hy vir die wedren by Eurotek gehuur het, het goed gevaar, maar dit was steeds ‘n uitdaging om op ‘n ander motorfiets as sy eie te ry. Hy moes ook die motorfietsstuur vervang.
Die bergroete was vir hom die moeilikste deel van die byeenkoms.

Op die laaste dag het deelnemers net sewe uur gehad om die roete te voltooi. Nadat Paulus die Silwer-klas voltooi het, het hy voortgegaan om die Goue roete aan te pak.
Hy en ander ryers het egter in die berge vasgeval en uit tyd gehardloop voordat hulle die eindpunt kon bereik.
“Dit was nogal teleurstellend, want ek was net voor die eindpunt,” het hy gesê.
Paulus was nietemin tevrede met sy 15de plek in die Silwer-klas, hoewel hy gehoop het om ook die Goue roete te voltooi.
“Ek was nogal bly, maar het gevoel ek kon beter doen as ons nie so vasgesit het in die berg nie. Ek gaan volgende jaar net weer probeer.”
Vir hom was die geleentheid om saam met van die beste ryers deel te neem en die wedren self te ervaar, reeds betekenisvol.
Sy prestasie volg op ‘n eerste plek in die Brons-klas by die Roof of Africa, ‘n uitslag waarop hy trots is.
Hard-enduro verg aansienlike fisieke voorbereiding en geestelike fokus. Paulus oefen daagliks en sluit draf, gimnasiumoefeninge, gewigsoefeninge, boks, fietsry en motorfietsry by sy roetine in.

Hy oefen ook gereeld in die Drakensberg en het aan die Spioenkop-bergfietsren deelgeneem. Wanneer hy nie oefen of aan wedrenne deelneem nie, geniet hy dit om saam met sy pa te jag en vis te vang.
Sy veeleisende oefenprogram beteken dat hy nie aan skolesport kan deelneem nie. Dit verg ook beplanning om sy skoolwerk en wedrenne te balanseer, aangesien hy dikwels onderweg is na oefensessies en byeenkomste.
Sy ouers is sy grootste ondersteuners en was ook by die Sea to Sky-wedren teenwoordig. Volgens Paulus is hulle baie trots op sy prestasie.
Hy meen hard-enduro het hom geleer dat dissipline en harde werk noodsaaklik is.
“Ek ervaar nie regtig druk nie. Ek ry teen myself om te verbeter,” het hy gesê.
Wanneer hy op ‘n moeilike deel van ‘n roete sukkel, hou hy aan probeer. Sy raad aan ander kinders met groot drome is eenvoudig: “Werk hard.”
Paulus sê sy ouers het hom geleer dat harde werk beloon word en dat daar altyd weer ‘n geleentheid is om te verbeter.
Sy doelwit is om volgende jaar eerste in sy klas te eindig en die nasionale kampioenskap te wen.

Hy wil ook volgende jaar weer aan die Roof of Africa en Sea to Sky deelneem.
Onder sy motorfietsry-rolmodelle is die Suid-Afrikaner James Moore, asook Teodor Kabakchiev, Manuel Lettenbichler en Billy Bolt.
Paulus droom daarvan om eendag professioneel motorfiets te ry en in die buiteland deel te neem. Oor vyf jaar hoop hy om in Europa te wees.



