Local newsNewsSchools

Boere slaan munt uit ’n mielie

Mnr. Hannes de Beer het 16.745 ton droëlandmielies op een hektaar geproduseer

BETHAL – Mnr. Hannes de Beer wat tussen Bethal en Middelburg boer, het verlede maand R50 000 kontant en produkte ter waarde van bykans R40 000 ingepalm deur 16.745 ton droëlandmielies op een hektaar te produseer.

Die Slaan-munt-uit-‘n-Mielieprojek is weer eens vanjaar met groot sukses deur Privaatskool Hoëveldrif aangebied.

Geskiedenis is ook gemaak met ‘n samewerkingsooreenkoms tussen ses privaat CVO-skole in die Suidoos-streek van Mpumalanga.

Dié skole van so ver as Pretoria het die geleentheid gehad om geld vir hul skole in te samel.

Mnr. Carel Hancke, projekbestuurder en ouer van Privaatskool Hoëveldrif, het gesê dat daar soveel as R239 000 kontant en landbouprodukte deur verskeie instansies geborg is.

Dié prysgeld is weer in die deelnemende boere se sakke teruggeploeg.

Hy het gesê: “Organiseerders is baie opgewonde omdat die boere en instansies op ‘n ander vlak bymekaargebring is.”

Om te kon deelneem moes boere een hektaar van ‘n mielieland skenk wat as inskrywingsgeld gedien het.

Slegs droëlandmielies is in aanmerking geneem en die ingeskrewe hektaar moes van meet af deur GPS-koördinate aangedui word.

Streng kontrole is deurgaans deur onafhanklike taksateurs uitgevoer om die geloofwaardigheid van die projek te verseker.

Mnr. De Beer was uiteindelik die boer wat die hoogste opbrengs deur middel van gewigsmaat op die gegewe hektaar mielies kon stroop en is tydens ‘n glans gala-aand as die wenner gekroon.

Mnr. Johan Hendrik Barnard met sy 14.225 ton per hektaar het tweede geëindig en het produkte ter waarde van R55 000 gewen.

In die derde plek was mnre. Jan Tonkin en sy seun, Delarey Tonkin, met 13.982 ton per hektaar.

Hulle het produkte ter waarde van R45 000 huis toe geneem.

Mnr. Danie van Wyk, mede-organiseerder en ouer van Middelburg CVO, het die ses streekswenners aankondig wat elk R5 400 se mieliesaad gewen het.

Hy het gesê dat die insetverskaffers se verbintenis tot dié suksesvolle kompetisie, die reuse prysgeld moontlik gemaak het.

Elke wenner is gedurende die gala-aand die geleentheid gegun om sy bewerkingsmetodes, sy saad- en kunsmiskeuses en die hoeveelheid reënval aan die gehoor deur te gee.

Mnr. Van Wyk het gesé dat die kompetisie ook aan boere en insetverskaffers die geleentheid gun om hul resultate te vergelyk en nuwe moontlikhede te ondersoek.

Al die wenners was dit egter eens dat ‘n goeie reënval die bepalende faktor was.

Mnr. Hancke het gesê die belangstelling was oorweldigend.

“Met die nuwe seisoen wat reeds afgeskop het, sal ons die Slaan-munt-uit-‘n-Mielie 2014-projek so gou moontlik aan die rol kry.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button