Local news

Klein dade van goedheid laat groot rimpels deur gemeenskappe

Een koppie koffie, ’n vriendelike boodskap of ’n eenvoudige gebaar kan iemand se dag verander. Die 10 Dae van Goedheid-inisiatief het gewys hoe goedheid van een persoon na ’n hele gemeenskap kan versprei.

ERMELO – Wat begin het as ’n inisiatief om goedheid in Ermelo aan te moedig, het intussen ’n rimpeleffek in ander dorpe en jeugsentrums gehad.

Die 10 Dae van Goedheid-uitdaging, wat in Augustus vanjaar deur Ligbron Akademie vir Tegnologie geloods is, het gewys hoe klein, doelbewuste dade ’n verskil in mense se lewens kan maak en ’n hele gemeenskap kan help ophef.

Saretha Ferns, organiseerder van die inisiatief, het vertel dat sy verstom is oor hoe die uitdaging na ander gemeenskappe versprei het, selfs tot in die Kaap.

Die X3DE-jeuggroep het ook onlangs die uitdaging aangepak. Reneshke Morkel het vertel dat hulle deur die inisiatief aan jongmense wil wys hoe maklik dit is om goed te wees vir ander.

“Omdat ons elke dag met die jeug werk en gereeld skole besoek, het ons gesien dat daar ’n lack of kindness in kinders is. Asof dit amper vergete gaan om kindness te wys aan ander,” het sy vertel.

Sy glo die uitdaging kan vir seker ’n blywende impak hê op elkeen se lewe.

“Daar is kindness in elkeen se hart, en ons is die hande en voete van die kerk, en deur dade van kindness kan elkeen van ons die Here se goedheid met ander deel. Baie keer is ons skaam om die Woord met ander te deel of om vir iemand te sê Jesus is lief vir jou, maar die acts of kindness wys dat daar iets anders binne jou aan die gang is.”

Haar hoop met die uitdaging is dat die dade van goedheid ’n gewoonte sal word by elkeen.

Die uitdaging het aanvanklik ondernemings en gemeenskapslede in Ermelo aangemoedig om gedurende Augustus vir 10 dae elke dag ’n doelbewuste daad van goedheid te verrig. Die doel was om mense aan te moedig om op eenvoudige maniere na ander uit te reik en sodoende ’n sterker, vriendeliker gemeenskap te bou.

Die veldtog het deelnemers aangemoedig om goedheid prakties uit te leef, van iemand bedank wie se werk dikwels ongesiens verbygaan tot die ondersteuning van iemand in nood.

Volgens Ferns het verskeie ondernemings in Ermelo by die uitdaging ingekoop en talle spesiale stories het uit die projek voortgespruit.

Een van die beplande inisiatiewe was om die speelplek by die kerk vir die kinders te verf. ’n Dag voordat die werk sou plaasvind, het ’n lid van die gemeenskap die nodige verf voorsien.

Op ’n ander dag het Ferns ’n sak sjokolade op haar tafel gevind, wat gebruik is om ander te bederf.

Een van die stories wat haar bygebly het, was dié van ’n onderwyser wat sowat 80 briefies met positiewe boodskappe op items in ’n Checkers-winkel geplak het. Ferns het verskeie boodskappe ontvang van mense wat die briefies deur hul Checkers Sixty60-aflewerings gekry het en vertel het hoe dit hul dag opgehelder het.

Selfs ’n eenvoudige koppie koffie het op een dag verskeie inwoners se gemoed gelig en hul laat besef dat, hoewel hul dalk alleen voel, daar iemand is wat hul raaksien en omgee.

By die skool is sekuriteitspersoneel, wat verantwoordelik is om die skoolhek oop en toe te maak, ook met ’n klein daad van goedheid erkenning gegee.

Die gebaar het aangesluit by een van die kernboodskappe van die uitdaging: om mense raak te sien wie se bydraes nie altyd erken word nie.

Hoewel die individuele dade klein was, was die invloed daarvan nie tot die ontvanger beperk nie.

“’n Boodskap wat iemand se dag ophelder, kan daardie persoon aanspoor om weer iets goeds vir iemand anders te doen. Só versprei goedheid van een persoon na die volgende en kan dit uiteindelik ’n hele gemeenskap bereik,” het Ferns vertel.

Dit is juis hierdie rimpeleffek wat Ferns verras het.

Sy het vertel dat sy nooit kon droom dat die projek soveel mense in Ermelo en ander gemeenskappe sou raak nie.

Die projek het ook aan kinders wat nie noodwendig op akademiese gebied of op die sportveld uitblink nie, die geleentheid gebied om deel te neem en ’n verskil te maak.

Volgens Ferns het dit hulle gehelp om te besef dat hulle waardevol is en dat elkeen die vermoë het om iemand anders se dag beter te maak.

Die uitdaging het deelnemers daaraan herinner dat goedheid nie groot of duur hoef te wees nie. ’n Opregte kompliment, ’n woord van dank, ’n koppie koffie of ’n klein gebaar van hulp kan reeds vir iemand ’n betekenisvolle verskil maak.

Ferns het vertel dat sy reeds talle navrae ontvang het oor die moontlikheid om die projek volgende jaar weer aan te pak.

Sy het egter beklemtoon dat die toekoms daarvan in God se hande is.

“Ek sê altyd daar is ’n goeie idee en ’n God-idee. Om te sien hoe die projek mense se lewens geraak het en hoe almal ingekoop het, het net weer eens bevestig dat die 10 Dae van Goedheid nie my idee was nie, maar God se idee,” het sy gesê.
“Die ervaring het gewys dat ’n enkele inisiatief veel verder kan strek as die plek waar dit begin het. Wanneer individue, ondernemings, skole en jeuggroepe besluit om doelbewus goedheid uit te leef, kan die uitwerking daarvan van persoon tot persoon en van gemeenskap tot gemeenskap versprei.”

Die uitdaging se boodskap bly eenvoudig: niemand hoef groot dinge te doen om ’n verskil te maak nie.

Soms begin ’n verandering in ’n gemeenskap met een persoon wat besluit om ’n ander raak te sien en iets kleins te doen om sy of haar dag beter te maak.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button