’n Motoris is verlede Vrydagoggend van sy selfoon, geld en ander besittings beroof toe hy by ’n stopteken op die hoek van Bothma- en Fouriestraat stilgehou het.
Na wat verneem word, was die venster aan die bestuurderskant van die motor weens die warm weer afgedraai toe hy stilgehou het.
’n Onbekende man het nader gestap en die motoris se aandag afgetrek, terwyl nog ’n man die deur aan die passasierskant oopgeruk het.
Die goedere is buitgemaak en die mans het op die vlug geslaaan.
’n Saak van diefstal is by die plaaslike polisie aangemeld.
“Motoriste word weer eens gewaarsku om ten alle tye op die uitkyk te wees vir verdagte mense wat op straathoeke, by stoptekens en verkeersligte rondstaan.
“Persoonlike besittings moet liefs buite sig in die kattebak toesluit word en nie op sitplekke binne die motor geplaas word nie,” het ’n polisiewoordvoerder gesê.



